DIE VRYHEIDSTRYD VAN DIE AFRIKANER

 

REPUBLIEKDAGVIERING

 MALMESBURY

 

REDE GELEWER DEUR DR PIETER MÖLLER

 

 

  1. Uitnodiging

Baie dankie vir die uitnodiging van my vriend van baie jare, mnr. Frikkie Strauss.  Dis vir my lekker om hier in die Swartland te wees.  Uit u inisiatiewe is dit duidelik dat die gees van die Bittereinders en die Kaapse rebelle steeds voortleef in hierdie wêreld.  Geluk en sterkte met u pogings.

 

Ek is gevra om oor die vryheidstryd van ons volk te praat, ‘n stryd wat verskillende vorms aangeneem het en wat hom uiteraard op vele terreine manifesteer het.

 

  1. Waar kom die vryheidsdrang vandaan?

 

Uit die samestelling van ons volk het twee sentrale temas hul in ons volksgeskiedenis gemanifesteer, te wete ons godsdienssin en die strewe om vry te wees.  Dit word beweer dat die Afrikanervolk teen 1700 uit 41,5% persone van Nederlands afkoms, 36,2% van Duitse afkoms, 12,3% van Franse afkoms, 6% van Engelse afkoms en 4% van allerlei ander afkomste bestaan het.  Hierdie samestelling sou ongetwyfeld in later jare deur verder immigrasie versteur word, maar dit staan vas dat vermelde volkere die grondslag vir die nuwe Blanke volk wat in Afrika ontstaan het, gelê het. Sowel die Hollanders as Franse en Duitsers het voor die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap deur tydperke van groot stryd gegaan.  So was die Protestantse Nederlanders vir 80 jaar ( 1568 – 1648 ) in ‘n geloofstyd teen die tóé magtige Spanje gewikkel.  Ook die Duitsers was om dieselfde rede vir 30 jaar (1618 – 1648 )  in oorlog betrokke, terwyl die Franse Protestante voor 1652 reeds vir langer as ‘n eeu in ‘n geloofstryd teen hul Rooms-Katolike landgenote betrokke was.  Stryd was deel van hierdie bevolkings se lewe.  Hulle wou vry wees om te lewe ooreenkomstig hulle lewens- en wêreldsbeskouing.  Dit is dus bykans vanselfsprekend dat die nuwe volk wat uit hierdie elemente op Afrikabodem ontstaan het dieselfde vryheidsdrang sou hê.  Dieselfde geld vir hulle Prostestantse geloof.  Die twee sake het immers hand aan hand gegaan – sonder die een sou die ander betekenisloos wees.

 

Die geskiedenis wou egter ook ander eise aan die nuwe volk in wording stel.  Aanvanklike stryd in ‘n woeste en wilde wêreld teen barbare het later ‘n nuwe dimensie verkry toe die Engelse sedert 1795 hulle verskyning aan die suidpunt van Afrika gemaak het. Toe het dit ‘n stryd geword om hulle taal en lewensbeskouing te behou omdat die Engelse hulle wou verengels het.  Gevolglik het geen enkele faktor so ‘n oorheersend negatiewe invloed op ons volksgeskiedenis gehad nie as juis die verderflike Britse betrokkendheid in Suid-Afrika.  Dit het tot gevolg gehad dat stryd ‘n lewenswyse by on volk geword het.

 

  1. Die Afrikaner en sy stryd om vry te wees

 

Vervolgens sal ons ‘n voëlvlug oor die geskiedenis van ons volk neem en vlugtig na die styd in sy verskillende geledinge kyk.

 

Anders as ‘n groot deel van hul nasate van veral die laaste helfte van die 20ste eeu het die Afrikaner dit uit die staanspoor nie gelate aanvaar as sy regte aangetas of as hul te nagekom is nie.  Die eerste blyke hiervan word reeds so vroeg as 1658 aangetref toe die Vryburgers geweier het om koring te produseer as die Kompanjie nie die prys daavan vasstel nie.

 

Eweneens het die Vryburgers in 1706 (bykans 5 dekades later) ‘n klagskrif na Nederland gestuur waarin goewerneur WA van der Stel en sy belangrikste amptenare weens hulle private boerdery, in mededinging met die Vryburgers, aangekla is.  Dit het die gewenste uitwerking gehad toe WA van der Stel na Nederland teruggeroep en die amptenare ontslaan is.

 

In 1779 ( ‘n verdere 7 dekades later) in nogeens ‘n burgerpetisie na Nederland gestuur waarin die ekonomiese griewe van die koloniste en hulle griewe teen die amptenare breedvoerig bespreek is.  Hierdie keer ongelukkig sonder gevolg.

 

Ofskoon hierdie aanvanklike griewe en styd van die Vryburgers ekonomies van aard was het die wese van hulle stryd weldra verander, soos die gebeure teen die einde van die 18de eeu in die distrikte van Graaf-Reinet en Swellendam onteenseglik aantoon.  Hierdie nuwe gees van verset was nie net toeteskryf aan die nuwe ekonomiese beleid van die Kompanjie nie, maar ook aan die aanhoudende strooptogte van die Xhosas waarteen hulle geen beskerming geniet het nie.  Dit het in 1795 ‘n hoogteppunt bereik toe eers die burgers van Graaf-Reinet en daarna die van Swellendam hul Kompanjielanddros verjaag het en met burgers uit eie geledere vervang het.  Die burgers het onder meer verklaar dat hulle hulle nuutgewonne vryheid  tot die laaste druppel bloed” sou verdedig en dat hulle “lank genoeg onder die juk van slawerny was”.  Die stryd om vry te wees het dus ongetwyfeld ‘n politieke kleur gekry.  Vir die eerste keer is reeds ook so vroeg al die woord Republiek gehoor.  Hierdie stryd sou waarskynlik tóé al reeds gewen gewees het, was dit nie vir die ontydige verskyning van die Engelse op die toneel nie.

 

Met die koms van die Engelse het die situasie van ons voorouers aan die Kaapse Oosgrens bykans daagliks versleg, want strooptogte en moorde was aan die orde van die dag.  Die situasie is grootliks versleg deur die negatiewe invloed wat die sendelinge van die Londense Sendinggenootskap op die Britse Koloniale Kantoor, wat beleid bepaal het, uitgeoefen het.  Omdat die blaam vir botsings en grensoorloë voor die deur van die Blankes gelê is, het hulle soos te begrype weinig of geen beskerming nie van owerheisweë geniet.  Gevolglik was hulle stryd nie net een om te oorleef nie, maar ook ‘n vergeefse politieke styd teen ‘n vyandige owerheid.

 

Skokkende gebeure soos die Slagtersnekopstand van 1815 het die Oosgrensboere op ‘n bitter wyse geleer dat gewelddadige verset teen die Britse owerheid weinig kans op sukses het.  In die omstandighede wat ons vandag beleef, kan ons waarskynlik ‘n beter begrip vorm van die magtelose frustrasie wat ons voorsate onder Britse bestuur aan die voorposte ervaar het.  Dit is derhalwe te begrype dat na ‘n jarelange stryd, waarin hulle tydens ses Xhosa-oorloë telkens geweldige verliese ten opsigte van lewens en eiendom gelyk het, maar nogtans altyd as die oortreders uitgemaak is, die dwinglandy nie langer kon verduur nie.  Hulle drang na ’n regverdige bestel waarin hulle vry kon wees om hulle self te wees en hulle God in vrede te dien, het hulle gevolglik genoop om die Kaap tussen  1835 en 1838 tydens die Groot Trek in vyf georganiseerde trekke te verlaat om elders ‘n  heenkome te vind waar hulle in ooreenstemming met hulle geloof ‘n rustige en stil lewe lkon lei en vir hulle en hulle kinders ‘n toekoms kon verseker.  Volgens Piet Retief (soos verwoord in sy manifes wat in Feb 1837 in Grahamstad gepubliseer is) sou hierdie trek geskied met die vaste vertoue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat die Trekkers altyd sou vrees en in alle nederigheid sou probeer gehoorsaam.  Sonder om op die geskiedenis van die Groot Trek in te gaan, kan ons sonder vrees vir teëspraak konstateer dat daaraan uitvoering gegee is soos dit onder meer blyk uit gebeure tydens die slag van Bloedrivier.

 

Die onderwerping van die Zoeloes het uitgeloop op die stigting van die Republiek van Natalia in 1838.  Die vryheidsdrang van die Afrikaner moes egter ongelukkig nogeens die knie buig voor die grypsug van Brittanje.  Na die anneksasie van Natal deur die Engelse in 1843 het die meerderheid van die Voortrekkers Natal geleidelik verlaat om nogeens vryheid te gaan soek.  Dit was by die geleentheid dat die Voortrekkers die Britse owerheid by monde van Johanna Smit meegedeel het dat hulle liewers kaalvoet oor die Drakensberge sou loop as om hulle gewillig aan Britse gesag te onderwerp omdat dit toe reeds duidelik was dat toestande soortgelyk aan die aan die Oosgrens in Natal aan’t ontwikkel was.

 

Die brandende vryheidsdrang wat in die are van ons voorsate gepols het, het uiteindelik, ongelukkig tydelik, welslae behaal met die stigting van die Republiek van Transvaal en die Oranje-Vrystaat, ‘n werklikheid wat die Engelse teen wil en dank respektiewelik in 1852 en 1854 moes erken toe die Britse regering amptelik erkenning aan die twee Boererepublieke verleen het.  Gedurende hierdie aanvanklike worsteljare was die twee Republieke deurgaans in stryd teen barbare. Die OVS het dieselfde probleem as aan die Oosgrens met die Basoetoes ondervind wat gedurig strooptogte uitgevoer het en die lewe vir die Vrystaters ondraaglik gemaak het.  Dit het tot drie Basoetoe-oorloë gelei. Vanselfsprekend het die Engelse soos gewoonlik die nie-Blankes se kant gekies en toe Mosjesj neerlaag in die gesig staar, het hy onder meer op aanstigting van LMS-sendelinge gevra om Britse onderdane te word.  Toe Brittanje Basoetoeland in 1868 annekseer, is die OVS-oorwinning in werklikheid in ‘n neerlaag omskep, want as die jong Republiek sederdien teen Basoetoes wat die grens oorskry het, wou optree, sou dit hom in botsing met Brittanje bring.  Hierdie onregverdige stryd het nogeens ‘n wrang smaak in die Boer se mond gelaat.

 

In die ZAR was daar van tyd tot tyd stryd met enkele opstandige swart opperhoofde in Noord-Transvaal, maar die onverkwiklikste stryd was die onderlinge vanweë die opportunisme van sommige Transvalers self wat selfs tot burgeroorlog aanleiding gegee het asook tot onnodige wrywing en stryd met die Susterrepubliek die Vaalrivier.

 

Soos in Basoetoeland het Brittanje ook haar neus in die sake van Transvaal en OVS gesteek nadat diamante gevind is op grondgebied van die twee Republieke. Nogeens het die twee Republieke die onregverdige en ongelyke stryd teen die bullebak verloor en gevolglik in 1871 wettige eiendom en potensieel groot rykdom verloor.  Hierdie rykdom sou die geldgierigheid van die geldmag verder aanwakker met die gevolg dat hulle met nuwe oë na die binneland van suidlike Afrika gekyk het.  Die proses sou voortgesit word met die ontdekking van goud ‘n aantal jare later, met gevolglike bittere stryd vir die Boere, nogeens ‘n ongelyke stryd waarin die geldmag die magtige Brittanje as bongenoot gehad het.

 

Maar eers sou die magtige Brittanje in 1880-1881 haar moses teëkom teen die klein Transvaalse Republiekie, iets wat nie in haar klere gaan sit het nie ‘n vernedering was wat sy nooit vergeet het nie.  Dit het gebeur nadat Shepstone Transvaal op 12 April 1877 op allerlei valse voorwensels geannekseer het en die Transvalers meer as drie-en-‘n-half jaar later eers ‘n stryd aangeknoop het om die ZAR se onafhanklikheid te herstel.  Hierdie skokkende passiwiteit, moet ongetwyfeld toegeskryf word aan swak en oninspirerende leierskap.  Toe ware leiers soos Paul Kruger die burgers begin inspireer het, is hierdie bykans lafharige passiwiteit in so ‘n mate omgekeer dat hierdie Eerste Vryheidsoorlog van die roemrykste en glorierykste oorwinnings in ons volksgeskiedenis is wat die wêreld laat kennis neem het van ‘n heldhaftige volkie wat die magtigste land in die wêreld op haar baadjie gespeel het.  Die oorwinnings by Bronkhorstspruit ( 20 Desember 1880), Laingsnek (28 Januarie 1881), Schuinshoogte (8 Februarie 1881) en veral Majuba wat die kroon gespan het (27 Februarie 1881) het bewys dat die Boere die wil tot verset het en wel bereid was om hulle vryheid tot die dood toe te verdedig soos die Swellendammers bykans ‘n eeu te vore in hierdie verband te kenne gegee het.  Dit het ook ‘n nuwe geslag helde, soos onder meer Christiaan de Wet op die voorgrond gestoot wat later tydens die Tweede Vryheidsoorlog net in statuur sou groei en nog belangriker, die vryheidsideaal brandend sou hou.  Ofskoon die eer van Majuba aan generaal Piet Joubert gegee word, kom dit eerder generaal Nicolaas Smit toe wat in beheer van die aanvalle was, waarin die Engelse aanvoerder generaal Colley en sommige van sy ander offsisiere die ewigeheid ingstuur is, ‘n totaal van 96 teenoor een Boer wat gesneuwel het.

 

Sedert die ontdekking van goud in 1886 het die propaganda van die internasionale geldmag teen die ZAR in alle erns begin, maar veral sedert 1895 is die skroef teen president Kruger en sy ZAR aansienlik aangedraai.  Allerlei wolhaarstories, wat by wyse van kloerante (plaaslik en in Engeland) versprei is, oor die tirannieke wyse waarop die Boere onskuldig uitlanders asook anderkleuriges in die ZAR onderdruk het, is vir soetkoek deur die Britse leserspubliek opgeëet.  Weereens het geestelikes, van veral die Anglikaanse kerk, aan hierdie propaganda meegdoen.  In Suid-Afrika was CJ Rhodes die groot stukrag agter as die onheilighed en in Engeland was die Koloniale Sekretaris, Joseph Chamberlain, nie net bewus van sake nie, maar selfs deel van die gekonkel, alles natuurlik sonder die medewete van die Engelsman op straat.

 

n Aanslag om die ZAR se onafhanklikheid te beeïndig, is teen die einde van 1895 met die Jameson-inval van stapel gestuur.  Hierdie gewelddadige poging tot ‘n staatsgreep het op 2 Januarie 1896 ten einde geloop toe die invalsmag van sowat 600 man hulle rieme deeglik styfgeloop het by Doornkop in die omgewing van Krugersdorp en die arrogante Jameson, in trane, verplig was om oor te gee.  In sy verwaandheid het hy, soos Colley tevore, en talle daarna, die Boere hopeloos onderskat. Die gebeure by Doornkop moes ongetwyfeld die Boeremoraal verder verhoog het en hulle vryheidsdrang ten goede gekom het.

 

Die terugslag by Doornkop het die kapitaliste net verder aangespoor om ‘n einde aan Kruger se regering te mak en sodoende hulle vuil kloue op Transvaal se goud en ander rykdomme te lê.  Derhalwe is die porpagande-haat-veldtog tot ongekende hoogtes teendie vryheidsliewende Boere gevoer.  Hieroor skryf Jan Smuts onder meer in EEN EEUW VAN ONRECHT: “ In talloze nieuwsbladen zijn wij beschuldigd geworden van alle misdaden tegen de beschaving en die humaniteit, zijn ons misdaden ten laste gelegd, waarvan het eenvoudig verhaal de haren te berge doet rijzen.”  In hierdie propaganda-aanslag het die mynmagnate ‘n handige bondgenoot in die jingo’s gehad (d.w.s diegene wat altyd eiebelang voorop stel en onregmatig toeëien wat nie aan hulle behoort nie).  So geslaagd was hierdie propaganda dat dit die koppe van die werkersklas, wat 80% van die Britse bevolking van 45 miljoen teen 1899 uitgemaak het en eers oorwegend anti-oorlog was, ten gunste van die oorlog geswaai het.

 

Sir Alfred Milner, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, was die persoon wat onversetlik voortgegaan het om oorlog te bewerkstellikg en uiteindelik daarin geslaag het.  Allerlei foefies is deur hom voorgehou sodat Kruger in magtelose radeloosheid hom toegevoeg het dat dit nie die stemreg vir die uitlanders is wat hy wou hê nie, maar die ZAR self, wat natuurlik die reine waarheid was, want dit het oor goud gegaan.

 

Die Tweede Vryheidsoorlog wat op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, is vanuit ons oogpunt die verhaal van die Boerehelde soos byvoorbeeld generaals De Wet, De la Rey, Kemp, Breyers en kommandant Danie Theron en talle ander wie se name vir ewig in die annale van ons volksgeskiedenis verewig is, maar dit is ongelukkig ook die verhaal van Boereverraaiers soos generaal Piet de Wet.  Hierdie genepoel word ongetwyfeld steeds onder ons gevind soos die onlangse verlede sonder twyfel aangetoon het.  Dit is ‘n onbetwiste feit waarmee ons deeglik rekening sal moet hou in ons beplanning vir die toekoms.

 

Ten spyte van die geweldige oormag het die Boere teen die aanvang van die oorlog aan al drie fronte roemryke oorwinnings, soos by Colenso, Spioenkop, Vaalkrans, Magersfontein en Stormberg, behaal.  Die oormag was op die lange duur egter te groot, ook vanweë die hulp van verraaiers (16 000 teen vredesluiting en dus ± 25% van die aantal burgers wat die oorlog begin het) en swartes (100 000) wat die Engelse bewapen het. Voeg daarby nog die volksmoord op ons vrouens en kinders in die konsentrasiekampe.  Dit het uitgeloop op die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, toe 21 000 burgers met gebroke harte oor die verlies van die onafhanklikheid hulle gewere stukkend geslaan het.  Na al die jare was die Boer weer onder die Britse vlag en alles wat dit sou meebring.

 

Ofskoon Jan Smuts na die oorlog op wanhopige toon onder meer in briewe aan Emily Hobhouse verklaar het dat die gees van Suid-Afrika vermorsel is en hy geen lig vir die toekoms sien nie, blyk dit tog dat dit nie die geval was nie en dat die gees van die Bittereinders nooit werklik dood was nie.  Diep onder die aanvanklike verslaenheid was ‘n smeulende vuur.  Omdat hulle in die wil van God berus het en hulle hul hele lewe lank as pioniersvolk aan ellende, stryd en dood gewoond was, het hulle met bewonderenswaardige taaiheid die oordeel gedra wat oor hulle gekom het.  Slegs aan die veraf blik in die oë of die bewende hand wat die pyp omklem het, kon die diepte van die leed en onderdrukte verontwaardiging bemerk word.  Ook dit sou egter met verloop van tyd soos die wonde toegegroei het deur die Bittereinders oorkom word.

 

Op 14 September 1914 het die Suid-Afrikaanse Parlement met 92 teen 12 stemme besluit om gehoor te gee aan die versoek wat na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog sowat 5 weke tevore van die Britse Regering ontvang is om Duits-Suidwes-Afrika binne te val en beslag te lê op die radiostasies in die gebied.  Die Parlementsbesluit het Afrikanernasionaliste, onder wie generaal CF Beyers, wat om hierdie rede as Kommandant-generaal van die Unieverdediningsmag bedank het, hewig ontstel.  Omdat die regering tot kommandering oorgegaan het en die teenstaanders van die oorlog dit in verband met die SWA-veldtog gebring het, het die gemoedere hoog geloop, wat uiteindelik op die Rebellie van 1914 uitgeloop het.  Die Rebellie was ‘n verdere bewys dat die Boere nog nie verlief geneem het met die verlies van hulle onafhanklikheid nie.  Boerehelde soos generaals Koos dela Rey, Jan Kemp, Manie Marits en Christiaan de Wet, om maar enkeles te noem, het met die Rebellie die geleentheid gesien om die onafhanklikheid van die Republieke te herstel, te meer nog in die lig van die feit dat Louis Botha hulle in 1902 tot die vrede oorreed het met die versekering dat daar in die toekoms weer ‘n geleentheid sou kom om die onafhanklikheid van die Republieke te herstel.  Tydens die Rebellie, waaraan 7 000 Vrystaters, 3 000 Transvalers en 2 000 Kapenaars deelgeneem het, is generaal Beyers dood, Jopie Fourie deur Smuts tereggestel en na die mislukking daarvan is geëerde Boeregeneraals soos De Wet en Kemp tot gevangenskap verneder.  Botha en Smuts het egter nie daareur daarin geslaag om die vryheidsvlam te blus nie, soos die stembus weldra sou aantoon.  Die stryd om vryheid sou voortgesit word, maar nou vir meer as drie dekades langs ander weë, te wete die politiek.

 

In 1924 het generaal Hertzog, wat tie jaar tevore die Nasionale Party gestig het, die bewind met die hulp van die Arbeidersparty by Smuts oorgeneem.  Vir die eerste keer was daar nou sedert Uniewording ‘n Afrikanernasionalis aan bewind.  Ongelukkig het hy hom nege jaar later laat verlei om ‘n koalisie met Smuts aan te gaan en die volgende jaar hulle twee partye te laat saamsmelt tot die VP.  Vyf jaar later met die uitbeek van die Tweede Wêreldoorlog het Hertzog die wrange vrugte gepluk toe Smuts by hom as eerste minister oorgeneem en dit tot in 1948 gebly het toe die NP van dr. Malan die VP by die stembus verslaan het. Sedertdien kon Afrikanernationaliste alles in werking stel om weer vry van Engeland toe word.  Onder leiding van adv. Strijdom is met rasseskrede gevorder op pad na ‘n Afrikanerrepubliek.  Na adv. Strijdom se dood in 1958 het dr HF Verwoerd as eerste minister die republikeinse wedloop voltooi.  Deur teenkanting en haat het die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 ‘n Republiek buite die Britse Statebond geword.  Met die totstandkoming van ‘n eie Republiek is die vryheidsdrang van die Boer weer ‘n keer bevredig.

Helaas, die gene van verraad het steeds sterk in sommige se are gevloei, want eers is dr. Verwoerd op verraderlike wyse uitgeskakel deur die moord op hom en daarna het die internasionale geldmag en sy lakeie toegesien dat die proses van verval in tempo toeneem.  Teen 1983 met die sogenaamde Tweede Republiek van Suid-Afrika was daar na twee dekades niks meer van die Eerste Republiek oor nie, so moeilik as wat dit is om dit te glo, omdat die volk mislei is en op konings en prinse vertrou het, het dit teen 1994, toe sogenaamde eie volksleiers sonder toestemming van die volk die land aan die magte van die duisternis weggegee het, gelyk of die vryheidstryd van die Boer vir goed verby was.

 

4. Die toekoms

 

In die tyd wat voorlê, sal die stryd om uiteindelik vryheid slegs slaag as dit op moed, durf, en geloof gebaseer is.  By geleentheid het mnr. Jaap Marais gesë: “Nasionalisme is die sefrespek om nee te sê wanneer jy instinktief aanvoel dat wat beplan word ( of gebeur-PM) teen die grein van jou volk insny.”  Ons is lankal by daardie punt verby.  Ook vir diegene wat so maklik sê dat dit te laat is, het wyle mnr. Marais ‘n boodskap.  By ‘n ander geleentheid het hy gesê dat ‘n nasie nie uit sy toekoms gepraat kan word nie.  Eers as die harde kern van ‘n nasie gebreek word, sal dit, aldus mnr. Marais, te laat wees.

 

Wat my betref, bestaan daar nog so ‘n kern.  Hoeveel selle daar om hierdie kern is, is moeilik bepaalbaar, tog lyk dit hedendaags of hierdie kern, met die vryheidideaal steeds in hulle harte, maar klein geword het.  Dit wil ook voorkom of die grootste deel van ons volk oënskynlik nie besef dat ons ons soos die Geuse, Hugenote en Puriteine tans vir die eerste keer in ons geskiedenis in ‘n geloofstryd bevind nie.  Dit lyk of hulle die heidense, volksvreemde regering wat heidense wette maak, maar aanvaar selfs al is dit tot oneer van God.

 

Derhalwe is ek dit roerend eens met die toekomsvisie van u vryheidsinisiatief, meneer Strauss.  Ons sal moet sorg vir die herlewing van die vryheidsideaal in die harte van ons volksgenote.  Dis ‘n geweldige taak wat op hande is, maar ons durf nie terugdeins nie.  Soos tussen 1877 en 1880 sal die volk deur dir regte leiding wakkergeskud moet word sodat ons eendag weer op Republiekdag dit in ons eie, vrye Republiek kan vier.  Die volk sal moet besef die regering van die dag is ‘n onwettige regering en sal op alle terreine verset moet demonstreer.  Die geskiedenis van ons volk het ons geleer dat ons, nie soos sommige in onlangse jare gedoen het om bondgenote buite die volk – dink maar aan Cosag, die Vryheidsalliansie en so meer – te soek nie, in die nuwe vryheidstryd op onsself en op God aangewese sal wees.  Soos met die doopbelofte sal ons in ons eie huise by ons kinders moet begin.  Ons sal hulle ons roemryke geskiedenis moet leer.  Hulle sal moet weet van ons helde en trots moet word om Boere (Afrikaners), sonder enige skuldgevoelens te wees. Maar hulle sal ook van die verraad moet weet en verraaiers moet verag.  Daar rus dus ‘n geweldige verantwoordelikheid op ons as ouers en grootouers.  Eers daarna sal ons kan uitbeweeg na andere van ons volk.

 

Ek stem dus saam met u leuse:  Ons het ‘n toekoms.  Ek sluit af met die gedagte van ds. L. Stavast in sy rubriek in ‘n onlangse Afrikaner waarin hy dit beklemtoon dat ons nie in vertwyfeling moet wees nie, selfs nie eers terwyl ons tans knegte in ons eie land is nie.  Dan haal hy onder meer Jeremia 29:28 aan: “Bou huise en plant tuine.”

 

Ek dank u

 

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za