PROJEK  VYF  VLAMME  VIR  VRYHEID

 

DOELSTELLING

Die projek Vyf Vlamme vir Vryheid vorm die kern van die BVI se langtermyn strategiese doelwit soos uiteengesit in die Bekendstelling.  Die hoofdoel  van die projek is om ‘n toegewyde kerngroep van Boere-Afrikaners, wat die vryheidsideaal hulle eie maak en hulleself tot die vryheidstryd verbind, te vind.  Hulle word saamgesnoer in ‘n hegte eenheidsbeweging wat die vryheidsideaal na die breë volkslae tot op voetsoolvlak kan uitdra.

 

WERKSWYSE

Die projek werk só:  Elke ondertekenaar van die Vryheidsbelofte vind ten minste nog vyf persone wat bereid is om die Vryheidsbelofte te onderteken en hulleself tot die vryheidstryd te verbind.  So word daar binne ‘n piramide-struktuur voortgegaan totdat die Vryheidsbelofte deur ongeveer 5% van die Afrikanervolk onderteken is.  (Die geskiedenis van volke se vryheidstryde oor die eeue het bewys dat die stryd altyd maar net deur ‘n klein minderheid geveg en gewen word – nooit meer as 5% nie).  Die werkswyse kan soos volg verduidelik word:

 

-          Werwing van ondertekenare

        Maak 'n lys van potensiële ondertekenare en nooi hulle een vir een uit om die belofte te onderteken. Die ervaring tot sover het geleer dat ongeveer 25% van die mense wat genader word die belofte onderteken.  U moet dus heelwat meer as 5 persone nader om vyf ondertekenare te kry.  Die uitnodiging kan persoonlik, telefonies, per brief of per e-pos geskied. Elke persoon moet 'n Bekendstelling en 'n Vryheidsbelofte kry.  Uit 'n koste-oogpunt gesien sal dit beter wees om eers net 'n fotostaat van die belofte aan 'n persoon te gee.  Wanneer hy aandui dat hy die belofte sal onderteken, gee dan aan hom die oorspronklike sowel as ‘n kopie van Projek Vyf Vlamme vir Vryheid.  Moet egter nie fotostate van die Bekendstelling vir mense gee nie.  Hulle moet die afdruk van die Vryheidsvlag in kleur sien.  Bestel nog daarvan by die kantoor asseblief of druk dit uit vanaf ons webtuiste by vryheidenreg.com

 

-       Verkryging en verspreiding van Vryheidsbeloftes

        Wanneer 'n persoon die Vryheidsbelofte onderteken, stem hy by implikasie daartoe in om nog vyf ander persone te vind wat dit ook sal doen.  Die persone wat u werf, moet dus elkeen die volgende ontvang:  Ten minste 5 Bekendstellings in kleur, 5 Vyf-vlamme-pamflette, 5 Vryheidsbeloftes in swart-en-wit en een Vryheidsbelofte in kleur.

 

Laasgenoemde moet hy/sy onderteken en in sy/haar besit hou. U kan dit bestel en aan hulle oorhandig,  hulle kan dit self bestel, of ons sal dit vir hulle stuur as u hulle name en adresse vir ons gee.  Al die dokumente is ook op ons webtuiste by vryheidenreg.com beskikbaar, vanwaar dit uitgedruk kan word.  Sê aan hulle of hulle eerste-. tweede-, derde-, vierde- of vyfdevlak ondertekenare is en dat ons graag wil hê dat elkeen nog vyf ondertekenare moet werf.  (Elkeen van hulle sal egter 'n brief ontvang met min of meer dieselfde strekking as die brief wat u ontvang het).

 

-       Opvolging

Opvolging is van die uiterste belang.  Persone wat nie dadelik op 'n uitnodiging reageer nie, moet weer genader word.  Ons beleid is om nie druk op mense uit te oefen nie;  mense moet egter weet dat ons 'n antwoord van hulle verwag.  Dit is immers net goeie maniere om op 'n uitnodiging te reageer.  Laat ons egter sover moontlik nie in argumente met mense betrokke raak nie.  Argumente veroorsaak antagonisme en maak deure toe.  'n Persoon wat vandag nee sê, kan môre ja sê as hy steeds positief oor ons voel.

 

Die hoofdoel met hierdie projek is om Boere-Afrikaners te beweeg om hulleself tot die vryheidstryd te verbind en die ondertekening van die Vryheidsbelofte is ‘n praktiese metode om dit reg te kry.  Dit is egter nie die enigste metode nie.  As u met ‘n persoon ‘n gesprek oor die hervatting van ons vryheidstryd gevoer het en hy die noodsaaklikheid daarvan ingesien het, is een beduidende tree in die regte rigting gegee en saam met die duisende ander kan dit uiteindelik ‘n nasionale opmars na vryheid word.  Moet dus nie ontmoedig voel as iemand nie kans sien om die Vryheidsbelofte te onderteken nie.  Spoor hom aan om met ander mense daaroor te praat en op dié wyse die vryheidsgedagte in die harte van mede-Afrikaners te plant. 

 

Ons vryheidstrewe moet die hooftema van ons politieke gesprekke word.  Daardeur kom ons weg van die negatiewe toon wat die meeste daarvan oorheers.  Die vryheidsideaal is iets positiefs en prakties om oor te praat en hoe meer gesprekke daaroor in ons volksgeledere plaasvind hoe vinniger sal die vryheidsgedagte groei.  Dit bly egter die ideaal om soveel moontlik mense te beweeg om die Vryheidsbelofte te onderteken.

Doen ook opvolging met die persone wat die belofte onderteken het.  Stel vas of hulle al hulle dokumentasie van die kantoor bestel het en gee aan hulle die nodige leiding en ondersteuning met die werwing van hulle ondertekenare.  Indien dit blyk dat van hulle nie die mas opkom nie, sal u moet probeer om vervangende ondertekenare te kry.

 

OPERASIONELE DOELWITTE

Ons doelwit is om ongeveer 150 000 ondertekenare van die Vryheidsbelofte te vind.  Dit verteenwoordig min of meer 5% van die huidige geskatte sieletal van die Afrikanervolk.  En aangesien ons weet dat die vyand gereedmaak vir die finale aanslag teen ons volk, het ons nie baie tyd nie.

Ons het rofweg bereken dat, indien elke persoon wat ‘n ondertekenaar van die Vryheidsbelofte word, net nog een ander persoon in ‘n week as ondertekenaar werf, met ‘n doelwit van 5 ondertekenare per persoon, ons die teiken van 150 000 binne die bestek van ‘n jaar kan behaal. Elke persoon wat ‘n ondertekenaar word, het dus ongeveer vyf weke om vyf nuwe ondertekenare te vind.

 

VERANTWOORDELIKHEDE  VAN ONDERTEKENAARS

Die BVI funksioneer op die basis van eweredige verspreiding van verantwoordelikhede om te verhoed dat enkele persone die hele las dra.  Dit wat elke persoon moet doen, behoort egter vir enige persoon haalbaar te wees en behels die volgende:

·         Om die vryheidsideaal en die doelstellings van die BVI in die algemeen deur woord en daad te bevorder.

·         Om ten minste vyf ondertekenare van die Vryheidsbelofte te vind en om hulle te motiveer om dieselfde te doen en in die algemeen op hulle beurt die vryheidsideaal en ook die doelstellings van die BVI te bevorder.

·         Om as kommunikasiekanale te dien.  Dit is tweeledig, naamlik:

-          Om op ‘n maandelikse basis ‘n kort vorderingsverslag aan die persoon wat vir u gewerf het, te verskaf.

-          Om die maandelikse nuusbrief aan ondertekenare wat uself gewerf het, te stuur sodat hulle dit weer ondertoe kan stuur.

·         Om, waar moontlik, die fondse van die BVI te versterk, hetsy deur eie bydraes of deur die verkryging van bydraes vanaf ander persone.

 

FINANSIERING

Die  BVI is ontwerp om met die mins moontlike finansiële hulpbronne te funksioneer. Tog is daar noodwendig sekere uitgawes wat gedek moet word.  Die belangrikste hiervan is die druk en verspreiding van ons inligtingsmateriaal en die vryheidsbeloftes.  Om die  koste daarvan te verhaal, koppel ons ‘n donasiewaarde daaraan, wat die druk- en versendingskoste dek , en wel soos volg:

 

Bekendstelllings                                                                            R7.50

Projek Vyf Vlamme vir Vryheid                                                          5.00

Vryheidsbeloftes - Kleur                                                                   7.50

                              Swart-en-wit                                                      2.50

Vryheidsplakker                                                                             15.00

 

Elke persoon wat inwillig om ‘n ondertekenaar te word, ontvang 5 Bekendstellings,  5 Vryheidsbeloftes in swart-en-wit,  5 Vyf-vlamme-pamflette, een Vryheidsbelofte in kleur en ‘n plakker en saam daarmee ‘n faktuur vir R70, wat hy/sy so gou moontlik aan ons moet stuur.

 

Benewens die direkte kostes is daar ook indirekte kostes soos salarisse, drukkersink, fotostate, fakse en telefoon.  Dit beloop ongeveer R1 000 per maand.  Daarvoor is ons afhanklik van bykomende vrywillige donasies van ondertekenare en ons wil u graag vra om u harte en u hande vir die BVI oop te maak in hierdie opsig.  Bankbesonderhede is soos volg: Absa, Rek.no 910  397 1109.                                                                    

 

VRYHEIDSVLAG

Die vryheidsvlag is die kenteken waaronder die BVI opereer.  Die vlag het ‘n sterk simboliek wat geanker is in ons volk se geskiedenis se vryheidstrewe en wek positiewe sentimente op.  Een blik op die vlag kan meer doen om die vryheidsvlam in ‘n persoon se hart aan die brand te steek as duisende woorde.  Daarom moedig ons ondertekenare van die Vryheidsbelofte sterk aan om die vlag in een of ander vorm te vertoon.  Besonderhede en donasiewaardes is soos volg:

 

Vryheidsplakkers:                                                                   Klein            R15

                                                                                             Groot             30

Vryheidsvlae:   20 x 15 cm (Tafelvlaggie met staander)                                    80

                      90 x 60 cm (Stormvlag)                                                         250

                      180 x 120 cm (Standaardvlag)                                                450

                              270 x 180 cm (Seremoniële vlag)                                           800

 

IDENTIFISEERBAARHEID

Die BVI is nie ‘n geheime organisasie nie.  Dit wat ons in die openbaar sê en in die praktyk doen, is dieselfde.  Ons stel egter ‘n hoë premie op ons ondersteuners se persoonlike veiligheid.  Daarom is ons beleid om sover moontlik geen name op enige vlak in ons beweging op skrif te hê nie.  Elke ondertekenaar moet probeer om die vyf of meer persone wat hy/sy as ondertekenare gewerf het se name en kontakbesonderhede in sy/haar kop te hou.  Verder is dit ook elke persoon se prerogatief om te besluit óf en in welke mate hy homself as ‘n ondersteuner van die BVI wil openbaar.  Persoon A sê nie aan persoon B dat  persoon C ‘n ondersteuner van die BVI is nie.  Tydens vergaderings en saamtrekke kan ondersteuners mekaar persoonlik ontmoet.

 

Met hierdie strategie wil ons nie alleen mekaar beskerm nie; ons wil ook probeer verhoed dat die beweging deur ons vyand geïnfiltreer word.  Dit sal ook ons vyand ontsenu as hulle nie werklik kan vasstel hoeveel en wie die ondersteuners van die BVI is nie.

 

NAVRAE

Navrae kan aan die dagbestuurslede gerig word. 
 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za