AFRIKANERS TREK SAAM VIR VRYHEID

 

MALMESBURY,  SATERDAG 29 MEI 2004

 

Gedurende die afgelope verkiesing is die proses wat in 1994 begin het uiteindelik voltrek;  Afrikaners is gereduseer tot ‘n magtelose minderheid in hulle eie land.  Hiervandaan vorentoe sal die hele propagandamasjien van die “Nuwe Suid-Afrika”  ten volle teen ons ingespan word om ons geestelik te verlam,  ons te beroof van ons liefde vir ons eie, van ons Afrikaneridentiteit en van ons vryheidsdrang.  Die einddoel is die totale vernietiging van die Afrikanervolk deur assimilasie in die “reënboognasie” en deur fisiese uitwissing.

 

DIE KEUSE:  VRYHEID OF VERKNEGTING

 

Tog het ons nie nodig om toe te laat dat ons soos ‘n redelose slagdier na die slagbank gesleep word nie.  Ons het ‘n keuse:  Ons kan kies om weer ‘n vrye volk in ons eie land, binne ons eie republiek, onder ons eie Afrikanerregering  te word en dit is haalbaar.  Alle ander selfrespekterende volke in die wêreld is vrye volke.  Ons eie volk het hom by drie geleenthede reeds aan vreemde dwingelandy ontworstel.  Hoekom kan ons dit  nie weer doen nie?

 

In ‘n sekere sin het ons ‘n keuse, in ‘n ander sin het ons egter nie ‘n keuse nie;  ons is moreel  daartoe verplig om weer ons vryheid te herwin.  Die geweldige offers wat deur ons voorouers gebring is om vir ons ‘n vaderland aan die Britse dwingelandy, die barbarisme en die wildernis te ontruk, maak dit vir ons onmoontlik om te berus in die verlies van ons vryheid en ons erfenis.  Passiewe berusting sal neerkom op die ergste vorm van historiese pligsversuim teenoor ons kinders.  Elke Afrikaner moet nou vir homself rekenskap gee oor sy verantwoordelikheid ten opsigte van die bewaring van ons erfenis vir ons nageslag.

 

Ons is egter daarvan oortuig dat die vryheidsvuur sluimerend in die hart van elke Afrikaner lê,  want die drang na vryheid is deur God self in elke mens

 

ingeskape.  In ons geval is dit die hooftema van ons geskiedenis.  Die sluimerende vlam moet net aangeblaas word tot een wat hoog opvlam en ons glo die tyd daarvoor het al lankal aangebreek.  Dit is egter nou van dringende belang dat ons onsself bevry van die negatiewe breinspoelingsproses waaraan ons die laaste vier dekades blootgestel was.

 

VRYHEID:  ONS HOOFTEMA

 

Ons moet begin om weer op ‘n skeppende, positiewe en toekomsgerigte wyse te dink te doen, in dieselfde voortreflike gees en styl waarin ons voorgeslagte opgetree het.  Ons daaglikse gesprekke en debatvoering moenie langer meer gaan oor dinge soos sportkwotas, TV-programme, kerktorings ens. nie;  nee, in ons sitkamers, om die braaivleisvure, in die inbelprogramme en in die briewekolomme moet ons praat oor ons vryheidsideaal.  En ons moet dit op ‘n visionêre,  Bybels- en feitegebaseerde maar ook nugtere, intelligente wyse soos moderne Afrikaners benader.  Ons moet oorkom van “téén-mense  navír-mense”.

 

Bogenoemde sal die inhoud en trant van ons beplande Afrikanervryheidsaamtrek wees.  Ons het vir Dr Pieter Möller, Pretoriase historikus en skrywer van die boek Vryheidstryd van die Afrikaner uitgenooi om die saak van ons vryheid te kom stel.  Hy sal kan aantoon hoe ons ons historiese ervaring op ‘n dinamiese wyse, wat terselfdertyd met die werklikheid van ons tyd rekening hou, kan aanwend om ons vryheid te herwin.  Daar sal  ook geleentheid wees vir onderlinge gesprekke oor strategieë vir die herwinning van ons vryheid. 

 

Die program sal verder opgeluister word met vlagparades, samesang, uitstallings  en verkopings van boeke en vlae. Die bekende wapenkenner Johan Geyer sal sy versamelings wapens en ander militêre gebruiksartikels uit die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog vetoon en toelig. Daar is geen toegangsgeld betaalbaar nie.  Ons sal wel tydens die saamtrek ‘n vrywillige bydrae ter delging van ons kostes vra.

 

Ons glo dat elke Afrikaner wat hierdie brief lees, die behoefte sal hê om die geleentheid by te woon.  Probeer dus u bes om dit moontlik te maak. Indien dit vir u prakties moontlik is, probeer om Vrydag- en Saterdagaand in Malmesbury te oornag.  As daar genoeg belangstelling is, beplan ons om die twee aande informeel en gesellig deur te bring met vleisbraai, saamkuier en videovertonings oor ons geskiedenis.  Ons wil graag daarvan ‘n saamtrek in die gees van ware Afrikanerskap maak.

 

Indien dit glad nie vir u moontlik is om die geleentheid by te woon nie, wil ons graag die volgende vriendelike versoek tot u rig:  Wil u nie asseblief vir ons ‘n bydrae stuur nie.  Ons wil dit gaag gebruik om die geleentheid in die media te adverteer sodat alle Afrikaners in die Wes-Kaap daarvan kan hoor.  Daardeur sal u ook die groepie manne en vroue wat hard werk om van die geleentheid ‘n sukses te maak, bemoedig en hulle hande sterk.

 

Die datum van 29 Mei 2004 is nie toevallig gekies nie.  Meimaand en die jaar 1904 (‘n eeu gelede) is van historiese belang.  Op 31 Mei 1902 het die bitter einde van die Tweede Vryheidsoorlog aangebreek en die Afrikaner was teen die grond.  Versiende en moedige Afrikanerleiers het egter die volk bemoedig en die jaar 1904 was die jaar waarin  die Afrikanervolk weer begin het om uit die as op te staan en die vryheidstryd weer te hervat.  Dit is ook die sterfjaar van President Kruger.  Op 26 Mei 1948 word die stryd met die historiese verkiesingsoorwinning van daardie jaar bekroon en op 31 Mei 1961 kom die Republiek van Suid-Afrika tot stand.  As ons in die jaar 2004 hulde wil bring aan die nalatenskap van Paul Kruger en sy medestryders kan ons dit op geen beter wyse doen as om die stryd waarvoor hulle geleef en gesterf het juis in hierdie jaar weer op te neem en voort te sit nie.

 

PROGRAM

 

Die byeenkoms word DV in die Landbousaal op Malmesbury gehou en die program is soos volg:

 

10:30                       Vlagparade, aangevul met vertellings, sangitems en samesang

11:30                       Hoofrede: Dr Pieter Möller

12:30 – 14:00          Ete

14:00                       Bekendstelling van BVI en bespreking oor ons vryheidstryd :

                                Dr Ronnie van der Merwe

16:00                       Bekendstelling van nuwe boek: Frikkie Strauss

17:00                       Afsluiting

 

PRAKTIESE REËLINGS

 

¨       Indien u die byeenkoms wil bywoon, faks of pos die ingeslote vormpie asseblief voor Donderdag 27 Mei vir ons.

¨       n Ligte middagete en ander verversings teen billike pryse sal op die terrein te koop wees.

¨       Bekostigbare huisvesting kan gereël word by mnr Johan Möller  by 022  482 3266.  Op die terrein self is ook voldoende ablusie-, kook- en verkoelingsgeriewe en ons mag die Vrydag- en Saterdagaand daar gratis oornag.  Alle slaapbenodighede moet self verskaf word.

 

******************************************************************

Indien u uself met hierdie inligting kan vereenselwig, stuur dit asseblief aan soveel moontlik ander Afrikaners.

DIE POSITIEWE ALTERNATIEF

 

‘n Antwoord op die Afrikaner se voortbestaansuitdaging van die 21ste eeu

 

Elke eeu van ons bestaan het sy eie voortbestaansuitdaging aan die Afrikanervolg gebied.  Hierdie een is nie ‘n uitsondering nie en die wyse waarop ons dit moet beantwoord, word deur Frikkie Strauss behandel in sy jongste boek met bostaande titel.  Hy gaan van die veronderstelling uit dat ons huidige voortbestaanskrisis en ander tergende probleme fundamenteel teruggevoer moet word na die feit dat ons ‘n polities-verknegte volk is en bied die herwinning van ons vryheid as ‘n antwoord daarop aan.  Die onderwerp word op ‘n saaklike, sistematiese en feitegebaseerde wyse benader, vanuit ‘n Bybelse, historiese en volkeregtelike perspektief en met ‘n visie vir ‘n langtermyn, blywende oplossing.  Die boek sluit af met praktiese aanbevelings oor wat elke individuele Afrikaner van vandag af kan doen om sy eie bydrae tot die verwesenliking van die vryheidsideaal te lewer.

 

Verskeie boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en sy kontemporêre voortbestaanstryd het reeds uit Strauss se pen verskyn.  In die onlangse tyd het hy ook verskeie boeke en artikels in finansiële blaaie oor belasting, beleggings en ander finansiële onderwerpe geskryf.  Hy is ‘n rekenmeester van beroep. 

 

Die boek word uitgegee deur Suidland Media en die BVI tree op as een van die verspreiders.  Dit beslaan ongeveer 60 bladsye en is gebind in 'n stewige omslag. Volgens beplanning sal dit DV gedurende die derde week van Mei verskyn.  ‘n Meer volledige uiteensetting van die inhoud van die boek is te lees op Suidland Media se webblad by suidland.com 

DIE BOEK WORD VERKOOP TEEN ‘N ALLESINSLUITENDE PRYS VAN R60 PER EKSEMPLAAR.  GEBRUIK ASSEBLIEF DIE LOS VORMPIE  OM BESTELLINGS TE PLAAS OF DOEN DIT PER E-POS.

 

Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief is gestig om die vryheidsideaal weer in die harte van Afrikaners te laat herlewe.  Die visie van die BVI is dat 'n vrye Afrikanervolk hulleself weer in hulle eie land sal regeer, soos dit met alle ander volke die geval is.  Die BVI wil sy doelstellings nastreef langs vreedsame en politieke weg, gebaseer op die reg van volke om vry te wees.  Dit beoog nie enige gewelddadige of ondergrondse aksies nie en het geen geheime agendas of verbintenisse met geheime organisasies nie.

 

Persone wat meer inligting omtrent die BVI verlang, kan ons webblad by vryheidenreg.com besoek of die dagbestuurslede by die onderstaande nommers kontak:

Dr Ronnie van der Merwe              Fraserburg         02072 vra vir 2221

Frikkie Strauss                           Piketberg          022  913 2353/2391

Tienie Dumas                              Fraserburg         053  3812 vra vir Loxton 1640

Smof Beetge                               Stilbaai             028  754 3628

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za