VAN RIEBEECKDAG

 

LAINGSBURG, SATERDAG 5 APRIL 2008

 

‘N VOLK DEUR GOD BEGENADIG

 

Op Sondag 6 April 2008 sal dit DV 356 jaar wees sedert Jan van Riebeeck en sy geselskap aan die Kaap voet aan wal gesit het.  Dit was die begin van ‘n proses wat uitgeloop het op die ontstaan en vorming van die Afrikanervolk.  Dit was hierdie volk wat  die binneland van Suider-Afrika ontworstel het aan die wildernis, die barbarisme en die Britse grypsug en uiteindelik die staat Suid-Afrika tot stand gebring het.  Dit sou egter nie moontlik gewees het as die volk nie deur die Almagtige God in  sy voorsienigheid met bepaalde karaktertrekke begenadig was nie.  Dit het daartoe gelei dat die Afrikanervolk ‘n unieke identiteit ontwikkel het waardeur hy homself duidelik onderskei het van alle ander volke.  Met verloop van tyd het ons egter toegelaat dat ons besondere karakter deur vreemde invloede en denkpatrone besoedel en afgewater geraak het, wat uiteindelik uitgeloop het op die skandelike kapitulasie in 1994.

 

GELEENTHEID OM VRYHEID TE HERWIN

 

Nou staan ons op die punt waar die politieke monster wat in 1994 geskep is, besig is om homself en sy skeppers te vernietig omdat die verwoestende kragte wat op ‘n roekelose wyse in Suid-Afrika losgelaat is, totaal buite beheer geraak het.  Die land is besig om onregeerbaar te raak en stuur af op anargie.  Dit sal hoë eise aan ons oorlewingsvermoë stel en ons sal onsself geestelik en fisies daarop moet voorberei.  Die ineenstorting van die huidige politieke bedeling, wat noodwendig uit so’n toestand van anargie sal voortvloei, sal aan ons as Afrikaners egter die geleentheid gee om weer ons vryheid te herwin en ons land terug te kry.  Albei hierdie uitdagings sal egter van ons verg dat ons weer tot ‘n ontdekking sal kom van die Godgegewe karaktertrekke waaroor ons as volk beskik.  Ons sal dit moet versterk, ontwikkel en inspan om vir onsself en ons kinders ‘n toekoms in dié land te skep.

 

‘N TOEKOMSSTRATEGIE

 

Tydens die beplande die Van Riebeeckherdenking sal ons DV die soeklig laat val op die ware identiteit van ons volk soos dit histories ontwikkel het, maar ons sal ook met mekaar praat oor ‘n strategie vir oorlewing en vir die herwinning van ons vryheid.  Hiermee word u uitgenooi na die byeenkoms.

 

Die jaarlikse vergadering van die Sentrale Vryheidskomitee van die BVI sal terselfdertyd ook gehou word.  Dit is nie ‘n geslote vergadering nie en almal wat die Van Riebeeckherdenking bywoon, is welkom om die vergadering ook by te woon.  Nie-lede van die SVK sal nie stemreg nie, maar sal vryelik aan die besprekings kan deelneem.  Die BVI bestaan reeds vir meer as vyf jaar en daar moet besin word oor hoedanig die BVI homself moet posisioneer vir die uitdagings van die onmiddellike toekoms.

PROGRAM

 

Die program sal min of meer soos volg verloop:

 

09:30                  Opening en verwelkoming

09:45                  Die ware identiteit van die Afrikanervolk : Frikkie Strauss

10:30                  Tee

10:45                  SVK-vergadering

11:15                  Oorsig oor die BVI se bedrywighede van die afgelope vyf jaar en die uitwerk van strategiese doelwitte en aksieplanne vir die toekoms : Onder leiding van Dr Ronnie van der Merwe, voorsitter van die BVI

13:00                  Afsluiting en ligte ete (teen billike prys)

 

PLEK

 

Die byeenkoms word gehou aan huis van mnr Tromp Steyn te Hospitaalstraat 20, Laingsburg. 

Vir persone wat van die Kaapse kant kom:  Draai links in Arbeidsweg by Speedy Insleepdiens.  Ry tot by Hospitaalstraat, draai regs en ry tot by die huis. 

Vir persone wat van Beaufort-Wes se kant af kom:  Ry deur die dorp en draai regs in Arbeidsweg. 

Navrae : 023  551 1251 of 082  493 3785

 

ANDER REËLINGS

 

·          Ter wille van die voorbereiding van die verversings sal ons graag teen Woensdag 2 April wil weet hoeveel mense die byeenkoms sal bywoon. ‘n Groot verskeidenheid goeie boeke sal ook te koop aangebied word.

·          Geen bywoningsgelde word gevra nie, maar tydens die byeenkoms sal daar ‘n geleentheid wees om ‘n bydrae tot die kostes daarvan te maak.

·          Algemene navrae oor die vergadering en besprekings kan gedoen word by die BVI-kantoor by :  022  913 2391 Piketberg.

 

Die BVI is op 12 Oktober 2002 te Matjiesfontein in die lewe geroep en het voortgevloei uit die suksesvolle Bittereinderdagherdenking wat op 31 Mei 2002 te Soetwater gehou is.  Die BVI beywer hom vir die herwinning van die vryheid van die Afrikanervolk en streef hierdie doel na langs vreedsame en politieke weg, gebaseer op die reg van volke om vry te wees.

                                                                 

PIKETBERG
Adres:
Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel:
(022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos:
BVI@xsinet.co.za