KAAPSE REBELLE SE BYDRAE TOT BITTEREINDERSTRYD WORD GEHULDIG

 

FRASERBURG  SATERDAG  16 MEI 2009

 

Dit sal vanjaar op 9 Oktober 2009 presies 110 jaar wees sedert die Boere-oorlog op 9 Oktober 1899 uitgebreek het.  Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief het sy ontstaan te danke aan die honderjarige herdenking van hierdie Bittereinderstryd en ons put nog steeds ons inspirasie uit die geloofsmoed en offervaardigheid van die manne en vroue wat hierdie stryd gevoer het.

 

Gedurende die oorlog het daar na raming ongeveer 16 000 Kaaplandse Afrikaners hulle lot by die Boeremagte ingewerp en het bekend geraak as die Kaapse Rebelle.  Saam met die Bittereinders van die republieke was hulle ook bereid om die stryd tot die einde te voer.  Dit is hulle bydrae tot die vorming van ons volk se geskiedenis en tot die skepping van ‘n toekoms vir ons as hulle nageslag wat ons DV graag by geleentheid van ons Bittereinderdag te Fraserburg op Saterdag 16 Mei wil gedenk.

 

Vir die Kaapse Rebelle was daar geen persoonlike of gemeenskaplike voordeel te behaal nie.  Slegs gedryf deur ‘n intense meelewing met die pyn en smart van hulle volksgenote in die Boere-republieke het hulle hulle lot by die invallende Boerekommando’s ingewerp.  Daar was vir hulle geen genade nie.  Hulle is deur die Britte gejag en doodgeskiet soos diere.  Hulle is gevang en sonder regverdige verhoor in die openbaar gehang, ten aanskoue van hulle dierbares.  En na die oorlog was hulle meer as enige ander persone aan die Britse haat en venyn uitgelewer.  Hulle is inderdaad ons hulde waardig.

 

v  VRYHEID : ONS TOEKOMS

 

Ons wil egter nie by die geskiedenis stilstaan en aan die verlede vasklou nie.  Daar is ‘n toekoms om te bou.  Ons by die BVI aanvaar in die geloof dat daar in God se raadsplan vir ons volk ‘n toekoms is.  Daarom is ons leuse :  Ons het ‘n toekoms.  Ons moet egter deur middel van ons dade aan ons Vader toon dat dit vir ons ook belangrik is om ‘n toekoms vir ons kinders te skep.  Solank ons egter berus in die verlies van ons vryheid en passief toekyk hoe ons duurverworwe erfenis vertrap word, sal daar nie vir ons ‘n toekoms wees nie.  Ons as 21ste eeuse Afrikaners kan in hierdie opsig die voorbeeld van die Kaapse Rebelle volg.

 

Tydens die vergadering sal daar inligting verskaf word oor die huidige vryheidstryd van ons volk, oor die BVI se aandeel daarin en oor die bydrae wat elke individuele Afrikaner daartoe kan lewer.  Ons sal verslag doen oor die reëlings vir die beplande volksvergadering. 

 

v  BOEREGROND VIR DIE BOEREVOLK

 

‘n Volk sonder sy eie land en sy eie grond is ‘n volk gevonnis tot nimmereindigende politieke verknegting. Daarom het ons verskeie aksies teen die grondhervormingsproses geloods.  Onder andere het ons vir Agri SA gedurende Desember 2007 in ‘n brief versoek om aan grondhervorming te onttrek.  Dit het gelei tot ‘n gesprek tussen die dagbestuur van die BVI en die leierskorps van Agri SA.  Tydens die vergadering sal ons inligting verskaf oor die aard en inhoud van ons kommunikasies met Agri SA en ook hoe ons die verdere verloop van die grondstryd sien.

 

v  OPROEP

 

Soos die Bittereinders van die ou republieke en die Kaapse Rebelle is ons vandag ook in ‘n stryd om ons vryheid gewikkel.  Of ons dit wil hê of nie, daar is ‘n oorlog teen ons aan die gang en daar is gevegslinies : ons s’n en die vyand s’n.  Vir elke Afrikaner is daar ‘n plek in ons gevegslinie en as daardie plek nie ingeneem word nie, gebeur een van twee dinge: óf die vyand stroom daardeur óf ‘n ander persoon moet daardie posisie saam met sy eie verdedig.  Vir elke selfrespekterende Afrikaner behoort dit ‘n saak van eer te wees om sy posisie in die gevegslinie in te neem.  Die gevegslinies is egter nie van militêre aard nie, want die oorlog is ‘n geestelik-sielkundige oorlog waarin kennis die ammunisie is.  Kom woon ons byeenkoms by om hulde te bring aan die Kaapse Rebelle en om uself toe te rus met die noodsaaklike kennis vir die stryd.

 

 

PROGRAM

 

Plek:       CVO-skool, Fraserburg,               Datum:     Saterdag 16 Mei 2009

Benaderde tydrooster:

09:30      Opening en verwelkoming

09:45      Vryheid ons toekoms : Frikkie Strauss, sekretaris van die BVI

10:45      Tee

11:15      Boeregrond vir die Boerevolk:  Dr Ronnie van der Merwe, voorsitter van die BVI

12:00      Ete

13:00      Vergadering van die Sentrale Vryheidskomitee van die BVI

                (Dis ‘n ope vergadering en almal wat die Bittereinderdag bywoon is welkom daarby)

14:30      Vertoning van DVD oor Genl de la Rey.

 

Geen toegangsgeld word gevra nie, maar donasies sal welkom wees. ‘n Groot verskeidenheid skaars boeke oor die Kaapse Rebelle en ander onderwerpe sal te koop wees.

 

Besprekings:              Bevestig asseblief bywoning teen Donderdag 14 Mei.

Kontakbesonderhede:       Tel 022  913 2391, 082  493 3785 of bvi@xsinet.co.za

 

 

Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief beywer hom vir die herstel van die vryheid van die Afrikanervolk en vir die behoud van Boeregrond vir die Boerevolk.  Ons onderneem geen ondergrondse of geheime bedrywighede nie.  Persone wat meer inligting oor die BVI verlang, kan ons webtuiste besoek by vryheidenreg.com of kan ons by bogenoemde nommers kontak.

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos:
BVI@xsinet.co.za