DIE  ERA  VAN  KRUGER

 

N BLIK OP DIE LEWE EN DIE NALATENSKAP VAN DIE LAASTE STAATSPRESIDENT VAN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK

 

Op Woensdag 14 Julie 2004 was dit presies 100 jaar gelede dat President Paul Kruger oorlede is.  Vanweë sy enorme geestelike nalatenskap het sy invloed egter veel verder as die tydperk van sy aardse lewe gestrek.  Die beginsels wat hy in sy private en openbare lewe uitgeleef het, het die basis van die Afrikanervolkslewe tot diep in die 20ste eeu gevorm.  Dit was eers na die sluipmoord op Dr H F Verwoerd in 1966 en die daaropvolgende toetrede tot die volkslewe van ‘n geslag leiers, wat niks omgegee het vir die beginsels en ideale waardeur Kruger geïnspireer was nie dat sy invloed in ons volkslewe afgeneem het.  Hy het  ongeveer rondom 1845 aktief by die Afrikanervolkslewe betrokke begin raak en ‘n mens sal dus kan sê dat die era van Kruger oor ongeveer een-en-‘n-kwart eeu gestrek het. 

 

In hierdie kort oorsig sal daar gekyk word na die lewe van Kruger self, na sy nalatenskap en na die uitdagings wat sy lewe aan Afrikaners van die 21ste eeu stel.

 

 

¨      DIE LEWE VAN KRUGER

 

Stephanus Johannes Paulus Kruger is op 10 Oktober 1825 naby Cradock, vermoedelik op die plaas Bulhoek, as die derde kind van Casper Kruger en sy vrou Elsie gebore.  Die familie trek gedurende 1836 die binneland in as deel van die trekgeselskap van Andries Hendrik Potgieter.  Kruger is betrokke by die slag van Vegkop in 1836 waar ±5000 Matabeles deur ongeveer 50 Voortrekkers verslaan word en hy is ook ooggetuie van die bloeddorstige Zoeloemoorde op die Voortrekkers in Natal in Februarie 1838.  Hy was baie betrokke by die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) waarvan hy later die Kommandant-Generaal en ook Vise-President word.  Na die Britse anneksasie van die ZAR in 1877 tree hy na vore as die mees prominente kampvegter vir die herstel van die ZAR se onafhanklikheid en word na die Eerste Vryheidsoorlog verkies tot President van die ZAR, ‘n posisie wat hy beklee het na verskillende agtereenvolgende verkiesings tot en met die Tweede Vryheids-oorlog toe die ZAR sy onafhanklikheid verloor het.  In hierdie tyd het sy statuur as staatsman vinnig gegroei, veral vanweë sy vasberadenheid om die ZAR se onafhanklikheid teen Britse imperialisme te handhaaf, want daardeur het hy in botsing met die grootste wêreldryk van sy tyd gekom. 

Die formidabele figuur van Kruger het die politieke toneel in Suider-Afrika gedurende die laaste kwart van die negentiende eeu oorheers.  Dit het egter verder gegaan.  Hy was een van die mees gerespekteerde staatsmanne van sy tyd.  Reeds in 1898 sê die Engelse skrywer Reginald Statham in sy boek Paul Kruger,  dat diegene wat die ondergang van die ZAR beplan het, “……met with the steady and unwearying resistance of the patriotic forces which Paul Kruger has personified and expressed.  And it is, in a considerable measure, by reason of his personifying and expressing this resistance that Paul Kruger is today included among the small number of men whose names and whose careers are familiar to the mind of every dweller in die civilised areas of the earth’s surface.

For it is certain that if at this moment there are five persons in the world whose names everywhere awaken the sense of a strong and distinct individuality, among those five will be, and must be, included the name of the President of the South African Republic.”

 

Die reeds eervolle naam van Kruger sou egter ongekende hoogtes bereik toe hy op 9 Oktober 1899, as die leier van die kleinste blanke volkie van sy tyd die magtigste militêre moondheid op die slagveld die stryd aansê.  Toe die Britte Transvaal in 1900 inneem, het die ZAR-regering gevoel dat Kruger Europa toe moes gaan om daar vir die Boeresaak steun te werf.  Na die oorlog het hy in Europa gebly en op 14 Julie 1904 is hy in Clarens in Switzerland oorlede.  Dit is vanuit Clarens dat hy sy laaste boodskap aan sy volk gerig het, waarvan die mees bekende gedeelte die volgende sin is:

“Want wie zich een toekomst scheppen wil, mag het verledene niet uit het oog verliezen.  Daarom:  Zoekt in het verleden al het goede en schoone, dat daarin te ontdekken valt, vormt daarnaar uw ideaal en beproeft voor de toekomst, dat ideaal te verwezenlijken.”

 

Sy stoflike oorskot is later na Suid-Afrika gebring en op 16 Desember 1904 in die helde-akker in Pretoria begrawe.   Hier eindig die aardse lewe van Kruger.  Die lewe wat hy geleef het, sou egter in die dekades wat daarop gevolg het ‘n verskil maak aan die lewens van miljoene mense op aarde.  Statham verwys in die slotparagraaf van sy boek oor Kruger na sy onvermoeide pogings om die Tweede Vryheidsoorlog af te weer en skryf dan:  “If Mr Kruger can accomplish this, he will have rendered not only to South Africa but to the British Empire a service utterly beyond the power of thanks – a service the value of which will appear greater and greater as the generations roll by.  Whether his life and his career end in tragedy or in peace, there will be few men of this century who will be spoken of by the men of next century with so much respect and appreciation as Paul Kruger.”

 

Dat sy invloed inderdaad tot diep in die 20ste eeu sou strek, nie alleen in die geledere van sy volksgenote nie, maar ook in dié van sy vyande word in 1960 soos volg bevestig deur Moris Broughton, voormalige redakteur van The Cape Argus in sy boek, Press and Politics of South Africa:  “Daar is” skryf hy, “ook die behoefte om ontslae te raak van die onsigbare man wat aan die anderkant van die redakteurstafel in byna elke Engelse koerantkantoor sit.  Daar is hy - treiterend, swygsaam, statig – die gees van Paul Kruger.  Dit is teen hom en sy beeld dat, fundamenteel, die inkvaatjies van hoon, spot, woede, welsprekendheid en verwerping uitgegiet word.”

 

¨      DIE NALATENSKAP VAN KRUGER

 

Dit is heeltemal onmoontlik om binne die bestek van ‘n artikel soos hierdie enigsins reg te laat geskied aan die waarde en betekenis van Paul Kruger se lewe.  Tog kan enkele aspekte uitgewys word.

 

ü      Kruger se verbondenheid aan God

Daar is by niemand enige twyfel dat Kruger ‘n opregte, suiwer geloof in die Lewende God van Die Bybel gehad het nie.  Sy private en openbare lewe het die getuienis daarvan uitgedra.  Hy is gebore in ‘n gesin waarin die ware gereformeerde geloof beoefen is.  Dalk is dit nie toevallig dat hy die name van drie van die mees prominente eerste volgelinge van Christus gedra het nie.  Die skrywer Reginald Statham, waarna reeds verwys is, maak dan ook melding van ‘n geleentheid waartydens Kruger homself alleen met God afgesonder het en spreek die mening uit dat dit ‘n rigtinggewende moment in sy lewe was.  Hy was waarlik ‘n voorbeeld van die wyse waarop God gedien moet word, ook vir ons Afrikaners van vandag.

 

ü      Kruger se liefde vir sy volk

Kruger het sy volk liefgehad met ‘n hartstogtelike liefde en was bereid om die hoogste persoonlike offers in die belang van sy volk te bring.

 

ü      Kruger se vryheidsin

Vir Kruger was daar geen plaasvervanger vir die volkome vryheid van sy volk nie.  Hy het vas geglo dat vryheid die Godgegewe reg van sy volk is.  Hy word allerweë beskou as die grootste verpersoonliking van die Afrikanervolk se vryheidsdrang.  Hieroor skryf die digter N P van Wyk Louw dat Kruger met ‘n krag van bo die redelike insig die oorlog begin het, alhoewel hy geweet het met watter groot mag hy te doen sou kry.  Dit was ook Van Wyk Louw wat gesê het dat, as Kruger nie die oorlog begin het nie, sou die Afrikanervolk van skaamte gesterf het, omdat hy bereid sou gewees het om sy nek te buig toe dit nuttig was om nederig wees.  Deur die oorlog het hy die selfrespek van sy volk gered en ons as sy nageslag in staat gestel om met trots ons posisie in die ry van volkere in te neem.

 

ü      Kruger se insig

Kruger was ‘n man wat deur mense en dinge kon kyk.  Hy was in staat om die waarheid en die leuen van mekaar te skei.  Hy het net ‘n paar maande skoolonderrig gehad maar was in staat om sy volk te regeer met Goddelike wysheid, soos ‘n Salomo van ouds.  Ook sy onderhandelinge met die Britte het hy op meesterlike wyse hanteer.  Hy sal onthou word vir een van sy grootste insigte, wat ook in ons tyd van betekenis is.  Tydens die onderhandelinge met Milner in Bloemfontein in Mei 1899 het dit vir hom spoedig duidelik geword dat die Britte nie stemreg vir die uitlanders soek nie.  Hy het uitgeroep:  “Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, dis my land wat julle wil hê!”  En hoe reg was hy nie, want na die oorlog het Milner gesê:  “The war will continue;  it will not be a war with bullets anymore, but it will be war still.”

 

Hoe het ons nie die insig van Kruger gemis toe ons in die vroeg negentiger jare van die vorige eeu die beheer oor ons vaderland afgeteken het in die naam van sogenaamde geregtigheid nie ?  Van die gewaande geregtigheid sien ons vandag bloedweinig en die oorlog teen ons gaan voort !  Sedert 1990 het daar volgens beraming byna net soveel Afrikaners in plaas- en ander aanvalle gesterf as wat in die jare 1899 – 1902 op die slagveld gesterf het, en die einde is nog glad nie in sig nie.

 

¨      DIE GEES VAN KRUGER

 

Die era van Kruger is vir altyd verby.  Sy aardse lewe het op 14 Julie 1904 geëindig en sy nalatenskap is grootliks afgetakel deur sy vyande en hulle medewerkers in sy eie volk se geledere.  Die gees van ‘n groot man leef egter altyd voort solank sy nasate sy dade in gedagtenis hou.  Wanneer ons vandag die geskiedenis lees van manne soos Moses, Josua, Koning Dawid en Paulus, om maar net enkeles te noem, kom ons onder die indruk van die besondere gees wat in hulle gewoon het en word ons daardeur geïnspireer.  Hoe word die mens wat enigsins ‘n waardering het vir die mooi en die edele in ander  byvoorbeeld nie aangespreek deur die gees wat in Kaleb geheers het dat hy kans gesien het om op die ouderdom van 85 die reuse uit die bergland te verdryf nie?

 

Watter gees het dan in Kruger geheers?  Dit was die gees van vryheid wat ten diepste sy oorsprong gehad het in die Gees van God.  Ons lees in II Kor. 3:17 die volgende woorde:  “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid,” en in Joh. 8:32:  “En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak.”

 

By die 100-jarige herdenking van die afsterwe van Kruger pas dit ons om weer sy lewe deeglik in oënskou te neem sodat ons inspirasie kan put uit die gees wat in die man geheers het.  Daar sal  sekerlik ook by ons die verlange wees om hulde te bring aan sy voortreflike nalatenskap.  Ons kan dit op verskeie wyses doen.  Die beste egter, is om die vryheid waarvoor hy geleef, gestry en gesterf het en wat ons verloor het, weer te herwin.  Laat ons nie langer berus in die verlies van ons volk se vryheid nie.  As ons voortgaan om in die toestand van geestelike en politieke knegskap te berus, sal ons en ons kinders van skaamte sterf, soos Van Wyk Louw gesê het.  As ons egter die stryd om die herwinning van ons vryheid weer opneem, sal ons die selfrespek van ons volk herstel en weer ‘n vaderland vir ons kinders verwerf.  Dit is die morele skuld aan ons kinders en die ereskuld aan die nagedagtenis van Paul Kruger.

 

FRIKKIE  STRAUSS

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za