Boeregrond – Ons erfenis

deur

 

Dr Ronnie van der Merwe

 

Die onderstaande lesing is gelewer tydens die reeks vergaderings wat die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief gedurende die week van 8 Oktober 2007 in Transvaal gehou het.  Dr Ronnie van der Merwe is ‘n boer van Fraserburg in die Karoo.  Hy het in 1976 aan die Universiteit van Stellenbosch in die Genetika gepromoveer en was daarna vir baie jare betrokke by die inisiëring van die toepassing van wetenskaplike teelmetodes in die Merinobedryf.  In dié tyd het hy ‘n selfstandige skaapras, die Boesmanlander ontwikkel.  In 1984 het hy die landbou-skrywersvereniging se toekenning as Nasionale Landbou-kundige van die jaar ontvang.  Hy is reeds vir baie jare betrokke by verskeie aksies ter behoud van Boeregrond as nasionale erfenis van die Afrikanervolk en is tans die voorsitter van die BVI.

 

Dr van der Merwe is gewillig om kommentaar te ontvang en vrae te beantwoord en sy kontakbesonderhede is soos volg:

 

Tel : 02072  2221 of 023  741 1253

Sel : 073  553 7773

E-pos : cvofraser02@telkomsa.net  

 

*************************************************************************

 

INLEIDING

 

Oor al die eeue was grondgebied die primêre bron van konflik tussen volkere.  Grondgebied was die behoueringsisteem waarbinne volkere hulle onderskei het met betrekking tot ontwikkelingsvermoë – die skepping van voorspoed en armoed.  Dit was dan dié behoueringsisteem waarbinne kultuurontwikkeling van volkere plaasgevind het met ‘n gevolglike natuurlike diversiteit tussen volke.  Diversiteit tussen volkere is ‘n inherente deel van God se skeppingsorde.  Dit bring egter die inherente versugting na ander se goed as ‘n ewige versoeking.

 

Boeregrond was die noodsaaklike ruimte waarbinne die Afrikaner as volk met ‘n eie kultuur ontwikkel het, ‘n Westerse vaardigheidskultuur gewortel in die Gereformeerde lewensbeskouing:  nie om onbeskaafd te raak in Afrika-afgesonderdheid nie, maar om die lig van die beskawing in te dra en instand te hou.  ‘n Unieke eurosentriese Afrika volk met inherente genadegawes wat hulle vandag in die ontwikkelde wêreld as gesogte intelligentia en werkers onderskei volgens die empiriese getuienis oor ons volksgenote in diaspora regoor die wêreld.

 

 

Slegs die ongekontamineerde bewaring van die Boere–Afrikanervolk op eie grond kan verder as enjin dien wat die hele Suider–Afrikaanse trein aan die loop kan hou.  So stroom daar vandag miljoene migrante uit vrye Afrika na die gruwelike oorblyfsels van apartheid vir ‘n stukkie brood.  Die voorspoed wat ons volk kan skep het begeerlikheid gewek wat ‘n komplekse veroweringsobsessie tot gevolg gehad het met Afrika-agtergeblewenheid wat grypsug aanvuur.

 

Die grondslag van hierdie veroweringsaanslag was gebaseer op Harvardse modelle vir die bestuur van massa-psigose van veelvolkige samelewings.  Hiervolgens kan van minderheids– magsgroepe feitlik geweldloos ontslae geraak word.  n Kernaspek van hierdie strategieë is om medewerkers vanuit die magsgroep self te verkry wat as katalisators of tussengangers kan optree, mense na wie in naïwiteit opgesien word en wat beklee is met openbare gesag.  Hulle moet die ondergang van hulle eie magsgroep help bewerkstellig.  Ons is tans in ‘n gevorderde fase van volksvernietiging met bykans 25% reeds in diaspora regoor die wêreld.

 

Die politieke verowering volgens Harvard se resep sonder geweld was ‘n reusesukses, soos een van die katalisators en vorige minister en vertroueling van die grootste deel van die Afrikaners dit opsom.  Dr. Stoffel van der Merwe sê in Beeld van 21 Oktober 2006: ”Ons het planne gemaak en ons kiesers ander stories vertel om die vrede te bewaar ………. op die keper beskou was dit seker oneerlik.  Ja, dit vat aan ‘n mens.”

 

Die tweede fase van verowering is ver gevorder en volg ‘n briljante roete van verowering van die wit ekonomie sonder verset of geweld, naamlik die SEB-skema.  Moeletsi Mbeki sê die ANC het nooit aan so iets gedink nie.  Dis ‘n stelsel waarmee groot korporatiewe maatskappye vorendag gekom het, ‘n stelsel waardeur die wit korporatiewe wêreld sy eie swart verowering bewerk-stellig en self tot selfvernietiging genereer. (Die Burger, 22/11/05)

 

Die kulturele aanslag op die totale wese van die Afrikaner is ver gevorderd.  ‘n Aanslag wat oënskynlik suksesvol strek vanaf ‘n totale vernietiging van ons soewereiniteits-begrip, ‘n verskuiwing van ons Godsbegrip en ons begrip van God se Woord tot by die dodelike subtiele aanslag op die kultuurvervreemding van die Afrikanerkind, alles met die oënskynlike akklamasie van die grootste deel van ons volk.

 

Die finale moeilike aanslag het oënskynlik suksesvol begin, naamlik ‘n versetlose grond-rewolusie tesame met ‘n selfgenerende oorgawe van die landbou–ekonomie, soortgelyk aan die SEB-program van die korporatiewe wêreld.  Die generiese swart aanslag word so ge-orkestreer dat generiese boereverset voorkom word deurdat die boer as enkeling hom hierteen moet verdedig teen die staatsmag en ekonomiese uitsluiting, aangesien eienaarskap gesetel is in privaat eiendomsreg.  Hoewel dus van generiese belang vir die swart aanspraak op witgrond word enige klank van witvolksbewustheid en van grondeiendomlikheid vanuit staatsweë en vanuit eie landbougeledere begroet met ‘n lawaai oor politiekery in die landbou.

 

Hoewel eienaarskap gesetel is in privaat eiendomsreg, is dit vir die hele Boerevolk se voortbestaan as kultuurgemeenskap van essensiële belang wat met die grond gebeur mbt eienaarskap, erfopvolging en rentmeesterskap.  Dit is dan ook tot ‘n groot mate die beskouing oor grond as volkseiendomlike wat die skeiding bring binne Afrikanervolks-geledere.  Dis ‘n skeiding wat besig is om permanente verdelingslyne aan te neem.

 

Aan die een kant het ons Afrikaners wat fraksies van die historiese kultuurerfenis wil bevorder oor kultuurgrense heen.  Kultuurgebondenheid is vir hom ‘n verleentheid.  Aan volkserfenis het hy geen erg nie.  Dis hierdie Afrikaner wat deur koverte strategiese magsvestiging vandag die Afrikaanse media en Afrikaanse korporatiewe wêreld beheer.  Dis hoofsaaklik deur hulle bemiddeling waardeur die witman deur briljante toepassing van Harvardse massa-psigose ontmagtig word en tot post–moderne slawerny gerangeer word ten einde sogenaamde sosio– politieke stabiliteit in SA te bewerkstellig.

 

Hierteenoor het ons die Afrikaner vir wie dit ‘n naelstring noodsaaklikheid is om saam met volksgenote binne ‘n geërfde lewensbeskouing lering en uitlewing ongeskonde oor te dra aan die geslagte wat kom.  Vir hulle is Boeregrond ‘n onontbeerlike volkserfenis.  Ons kan hulle identifiseer as die Boere-Afrikaners of die Boerevolk in wie se volksgebondenheid hulle globalistiese broers ‘n hekel het en hulle as rassiste sien.

 

Dit dan ter agtergrond sodat u die aanslag en proses van Afrikaner (wit) ontmagtiging en ontsetting in perspektief kan evalueer.  n Versetstrategie sal hiermee rekening moet hou.

 

 

‘N ETNIESE AANSLAG

 

Vir die regverdiging en noodsaak van gewettigde grondroof word as grondslag voorgehou dat die witman (verpersoonlik deur die Afrikaner) swartmense se grond gesteel het.  Vrywillige ontruiming word gemotiveer deur die vestiging van ‘n skuldkompleks en ‘n oorgawegees weens blatante of impliserende skulderkenning deur Afrikanerorganisasies wat hulle voordoen om die meerderheid te verteenwoordig.  Dit word gerugsteun deur die swart dreigement van “invation by force” wat dan die sosio–ekonomiese stabiliteit sou ontwrig en ‘n Zimbabwe-situasie sou presipiteer.  Die individuele boer wat teenstand bied, word nou ‘n bedreiging gemaak vir die hele samelewing en word die vark in die verhaal.  Hy word ook geteiken vir swart plaasaanvalle en grusame moorde.  (Ek weet van geen plaasmoord sedert 1994 wat gepleeg is deur ‘n Witman, Indiër of Kleurling nie.)

 

Die aanklag teen die witman is dat die 1913- en 1936-grondbesitwette die swartman verhoed het om grond buite die tradisionele swartgebiede te koop (lees beset).  Die swart aanslag op witgrond word openlik en blatant polities gedrywe.  Die finale verslag van die SEB-stuurkomitee van Mei 2005 stel dit so:  Die aanspraak wat die regering loods op die eienaarskap van landbougrond en die landbou-ekonomie namens die oorheersende swart kultuurgroep is polities gedrewe”.  Dit is dus ‘n etniese aanslag vir die verowering van die goed van ‘n ander, duidelik gedefinieërde etniese groep, naamlik die witman.

 

Wat is die geskiedkundige feite oor grondverdeling?  In die jare voor 1913 was die politieke risiko van stemgetalle van anderskleuriges vir ‘n geordende westerse regering geensins oorweeg nie.  Wat wel duidelik was, was dat swart stamowerhede nie bestand was teen die sakevernuf van die witman nie en die gevaar bestaan het dat tradisionele swartgebiede aan blankes uitverkoop kon word en dat swartmense bloot as arbeiders op hulle stamgronde sou voortbestaan.

 

Hierdie gronde is deur wetgewing vir swartmense in bewaring gehou.  Met die 1936-wetgewing is nog gronde toegevoeg en navorsing het bevind dat sekere stamme toe reeds heelwat meer gekry het as wat hulle hulleself kon toe-eien.

Witgrond wat in die Kaap mak gemaak is, was gekoop – eers van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en later dieper na die binneland toe van die Britse Kroon.  Die voormalige Boere–Republieke was internasionaal erkende Boereland.  Met apartheids-wetgewing is Kleurlinge met kompensasie verskuif maar sonder dat hulle politieke inspraak gehad het.  Die Griekwas as gekleurde gemeenskap het byvoorbeeld nie die grond gekry wat hulle bewoon het nie.

 

 

ROOKSKERMS

 

Dit word deur die aandrywers van die grondroofproses aan ons voorgehou dat daar ‘n onversadigbare grondhonger deur swartes is.  Opnames deur die Instituut vir Inisiatief en Ontwikkeling het egter getoon dat slegs 2% van respondente belangstel in landelike boerdery.  Stedelike behuising en werk is by verre (68%) die grootste behoefte.

 

Verder word die oorname van witgrond gesien as ‘n kortpad om armoede te verlig.  Die natuurlike gang van die landbou-ekonomie is egter sodanig dat al meer mense (wit en gekleurd) die landbou moet verlaat.  Die afgelope 10 jaar het Blanke boere verminder vanaf 57 980 tot 45 818 (Die Burger, 14/4/05).  Sommige statistiek wil dit dat die getal nou slegs 35 000 is.  Sedert 1994 het sowat 2,7 miljoen plaaswerkers na dorpe getrek of verstedelik.

 

Die Amerikaanse Voedselbeleidsinstituut se navorsing in Afrika toon dat die wortel van hongersnood in Afrika geleë is in te veel bestaansboerderye en dat die oplossing geleë is in moderne kommersiële boerdery.  Daarom word Zimbabwe se witboere nou opgeslurp in buurstate wat vroeër sy witboere verjaag en doodgemaak het.  Die vestiging van kleinboere op kommersiële produksie-eenhede is ‘n seker resep vir permanente armoede en staatsafhanklikheid, tesame met die verhoging van risiko van binnelandse voedselvoorsiening en verhoogde afhanklikheid van voedselinvoere.

 

Daar word groot gewag gemaak daarvan dat 80% van die land se grond in blanke hande is.  Volgens die Departement van Landbou se jaarverslag gedateer 29/8/03 is die totale oppervlakte van Suid-Afrika 122 000 000 ha.  Die totale staatsgrond beloop 24 919 290 ha, wat heel waarskynlik 15 000 000 swart stamgronde  insluit.   Kommer-siële   landbougrond  beloop 11 788 618 ha.   Die  staat  is onseker aan wie die orige 83 717 759 ha (68,67%) van die land se grond behoort.

 

Hierbenewens het die swartgrond besondere hoë potensiaal wat totaal onontwikkel bly lê het terwyl witgrond tot eerste-wêreld-status ontwikkel is.  Ons ariede gebiede is allerweë in die wêreld bekend as die bes-ontwikkelde woestynland ter wêreld.  Van ‘n tekort aan landboupotensiaal wat tot satisfaksie van swart voornemende landbouers ontwikkel kan word, is daar geen sprake nie.

 

Die aanslag op wit landbougrond gaan egter nie oor landbou-behoefte by swart mense nie.  Volgehoue teenargumente met voorbehoud van volhoubare landbouproduksie as basis, is nie relevant tot die motief van die aanslag nie.  Die brute verowering van witgrond is die simboliek van volslae magsoorname.  En die besitname van ‘n vorige magshebber se oënskynlike rykdom wat sogenaamd verwerf is ten koste van die onderdruktes is die dryfveer.  Dit was die motief van alle grondrewolusies regoor die wêreld.

 

Instandhouding van produksie en voedselsekerheid  is nie ter sake nie.  Dr. Johan van Rooyen (Hoof SA Wynbedryfsraad) sê doeltreffende landboubeoefening sal nog ten minste 30 jaar neem om te vestig.  (Tot dusver was 90% van alle grondoordrag na swart gemeenskappe ‘n volslae mislukking met miljarde Rande se landbouskade.)  Hy sê slegs 30% van die boere produseer in elk geval 70% van die produkte.  Produksie by swart boere is nie belangrik nie, sê hy.  Wat wel van uiterste belang is, is dat die maatskaplik–politiese behoeftes van swart mense voorsien word;  slegs getalle en hektare sal die politieke gemeenskap kan bevredig.

 

Die proses van grondroof het begin by die veronderstelling dat sekere grond onregmatig deur wit mense besit word en eintlik tradisioneel behoort aan swart families.  Algemeen aanvaar.  Soos wat die 1936-wet die 1913-wet aangevul het, kon daar nog foute gekom het met rondtrekkende en voortvlugtende swart stamme se grondidentifikasie.  Maar dié gronde is ingevolge internasionaal erkende regsreëls gekoop en betaal en sal dan ook deur ‘n ordelike regsproses en op ‘n basis van vrywillige koper en verkoper teruggekoop word vir die suksesvolle eisers.  Alles baie sindelik en ordelik.

 

Maar nou betaal die staat nie beide landsburgers se regskostes by die betwisting of ‘n eis regmatig is of nie.  By implikasie sê die staat die eienaar is skuldig totdat hy sy eie onskuld bewys.  Hierbenewens word regsgeldig bewese eiendomsreg nou gelyk gestel met ongetoetsde Afrika-oorleweringe.  Soms is daar veel meer eise as wat daar grond is.  Korrupsie in die Kommissaris se kantore moet verder teen hoë koste teengewerk word.  Die argiewe is in chaos en maak verdediging moeilik.  Geteikende plaasmoorde en ongekende diefstal verleen stukrag aan eise teen boere wat eise teenstaan.  Die wat hul eiendom via die reg wil verdedig, word as moedswillig en rassisties uitgeskel en gedemoraliseer.  (Boeremoord verhouding sedert 1994 beloop 313/100 000 teenoor ‘n wêreld gemiddeld van 5/100 000, terwyl totale diefstal vir 2006/7 vir vee, produkte, gereedskap en inbrake R1 077 176 000 beloop.)  Die afsnydatum vir grondeise was 1998.  Tans kom daar nog steeds nuwes te voorskyn,  ‘n Totaal van 74 539 eise het ingekom.

 

 

DIE DOELPALE SKUIWE

 

Toe word die doelpale geskuiwe.  Nog witgrond moet ontruim word, omdat die bevolking-samestelling dit nou eis.  Alles egter binne die vrye markstelsel.  Die mikpunt is egter dat teen 2014 daar 30% van die witgrond ontruim moet wees.  In 2001 teken Agri SA namens die hele land se witboere, lede en nie-lede, die landbousektorplan waarin onderneem word om die regering te help om sy mikpunt te bereik.  Die voorwaarde is die behoud van landbouproduksie en voedselsekerheid en die vrye markstelsel.  Die staat moet verder sekerheid gee van van goeie regering, behoud van globale mededingingsvermoë, kennis en innovasie, veiligheid en sekuriteit.  Agri SA sal die wit landbou voorberei vir die proses.

 

Dr. Jan du Plessis, bekende politieke ontleder, sê egter dat die regering se regeervermoë by die dag verswak en dat hy sy deel van die ooreenkoms nie nakom nie.  Landbou se internasionale mededingingsvermoë verswak, navorsing en voorligting het in duie gestort en van veiligheid en sekuriteit is daar weinig sprake (LBW 5/1/07).  Johan Willemse, bekende landbou-ontleder, sê die regering sit met baie geld, maar het nie meer besteevermoë nie (LBW 1/6/07).  (In die Staatsdiens is 44 000 poste vakant en funksioneer nog feitlik net die Departement van Binnelandse Inkomste doeltreffend.)   Nieteenstaande neem die regering se ongeduld toe.  Witboere word in die beskuldigde-bank ingetrek, synde  prosesse  te  vertraag  met  onderhandeling en hoë grondpryse. 

 

Die doelpale skuif verder en daar word nou gekyk na die gewillige koper/verkoper-meganisme in die vrye mark.  Onteiening verskyn as verdere opsie.  Dis tog tewens in publieke belang dat swartmense witgrond moet kry, word gesê.  Tot die wit dromstokkie, Dirk du Toit, slaan op die Afrikatamboer met ‘n voortydige dreigement van plaasonteienings in reaksie op onbillike afsetting van werkers.  Agri SA kan nou uitklim uit die ooreenkoms in die 2001 sektorplan, maar hy doen dit nie.  Daar is darem ‘n sonsondergang klousule van 2014 – 30%.

 

Dan skuif die doelpale nog verder.  In die Parlement sê die Minister van Landbou:  Grondsake bly ‘n grondwetlike mandaat.  Sodra die restitusie-eise afgehandel is en die teiken van 30% bereik is, sal daar voortgegaan word totdat die demografie van ras weerspieël word in grond besit.”  DB 30/6/07)  Maar dit skrik Georganiseerde Landbou nie af nie!   Die regering val vas.  Sy administrasie en bemagtigingsresultate lyk beroerd.

 

 

WITMAN MOET EIE ONDERGANG BEWERKSTELLIG

 

Nou skop die volgende fase in.  Die wit tussengangers moet inisiatief neem dat die witman homself kan oorgee, ter wille van ‘n “stabiele” samelewing.  Dit te midde van die vooropgestelde verwringing van die vrye mark, asook dat daar ‘n moratorium op herverhandeling van swart-grond ingestel word.  Laasgenoemde verhoed dat die witman met sy ekonomiese en landbou- vaardigheid witgrond kan herstel.

 

Annelize Crossby van Agri SA sê Georganiseerde Landbou is verheug dat sy grondhervor-mingsplan wat al in 2006 opgestel is, nou byval vind.  In plaas daarvan dat grondhervorming gebiedsgekonsentreerd is, word die aanslag nou landwyd versprei en die mikpunt van 30% teen 2014 en moet nou landwyd op distriksbasis nagestreef word.  Dit word nou die verantwoordelikheid van elke distrik se witmense.  Munisipaliteite sal grond identifiseer en ook geskikte grondhongeres uitsoek.  Die suksesse van wit ontsetting sal nou die plaaslike witmense se eer of skande wees.

 

Dit bring ‘n nuwe dimensie in die finansiering na vore.  Grondbelasting sal in oorweging kom om die plaaslike grondroof te help finansier.  Dit te midde daarvan dat plaaslike besture die rekord hou van 98% gekwalifiseerde ouditeursverslae, die mekka van korrupsie en wan- besteding van publieke geld (DB 12/9/07).

 

Volgens dié opwindende plan sal die staat nou voortgaan om grond op te koop al is daar nie grondhongeres nie.  Dit het dan kwansuis ook niks met grondnasionalisering te doen nie, want die plaaslike wit gemeenskappe sal dan solank geskikte grondhongeres kweek.  Grondbelas-ting kan dan ook sodanig aangewend word dat dit grondpryse kan afdwing deur die vernouing van die winsgrens. 

 

Skielik is grondhonger as vereiste vir grondhervorming van die baan af.  Dirk Mudge beweer dat in SWA (Namibië) se grondhervormingsproses die plaaswerkers wat die grond moet verlaat se getal dieselfde is as dié wat die grond betrek.  Daar is dus geen netto verhoogde swart toevoegings op witgrond nie.  In SA is hierdie som nie eens gemaak nie, maar dit is ook nie in die groot plan ter sake nie.

 

Nou sal die ekwiwalente sisteem inskop as wat met die politieke ontmagtiging van die witman operasioneel was.  Die nuwe grondplan sal gedryf word deur die “Public Private Partnership”.  Hulle gaan ‘n “Special Purpose Vehicle” skep, ‘n een-stop-liggaam van die privaatsektor plus die Departement van Landbou wat finansiering, aankope en mentorskappe sal fasiliteer.  Hulle sal op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak opereer.  Die finale uitvoering sal op plaaslike vlak geskied waar agente aangestel sal word wat seker ietsie sal kan verdien, soos byvoorbeeld plaaslike koöperasies.  Biljoene rande sal vanaf die privaatsektor ingepomp word vir die versnelde en suksesvolle wit ontsetting.

 

Op die toneel verskyn die Ton Vosloo’s, Mof Terreblanche’s en die Willie Esterhuysens (F.M. Feb. 2007).  Nou begin die slagspreuke en uitsprake wat sterk herinner aan 1994 in die pers, soos: “Kommersiële (lees wit) boere wil graag hê swart bemagtiging moet plaasvind.”  “Nog nooit was soveel blanke boere gewillig om grondhervorming te laat slaag nie.”  Agri Wes-Kaap moet 10 nuwe (lees swart) kommersiële boere per jaar vestig sonder om in die Staat se oë te kyk vir geld.  “Word betrokke (lees by wit onteiening) of word uitgerangeer.”  “Raak betrokke en maak die koek groter.”  “Ons het al 500 projekte by Vrystaat Agri aan die gang.”  “Die Minister moet net reg bestuur word.”  (Met die suggestie – wees gerus.)

 

Die volgende fase van wit ontsetting gaan nou van stapel gestuur word.  Die wit planmakers vir die korporatiewe wêreld se SEB-program se persoonlike en huishoudelike leefruimtes is onaangeraak gelaat met hulle oorgawe van hulle aandeelhouers se besighede.  Maar die korporatiewe wêreld is nou op dreef om wel die persoonlike en huishoudelike lewensruimte van die witboer aan selfvernietiging te help onderwerp deur die landbousektor in die selfgenererende SEB-program te forseer.  Terwyl dit ‘n tydjie gaan neem om die meeste witgrond te bekom, kan boere en landboubesighede solank mekaar jaag om binne hulle lewensruimte swart vennote in te skakel.  Behalwe die dodelike aanslag op die witboer se bestaansruimte en die landbou-ekonomie, word die boer se intellektuele kapitaal, wat deel is van sy menswees, ook nou verkneg.

 

Wat Transvaal Landbou-Unie betref, vertolk hulle optrede dat grond nie net kommersiële waarde het nie, maar ook van kulturele belang is, wat ‘n verantwoordelikheid teenoor sodanige kultuurgemeenskappe behels;  iets wat ons nie elders opmerk nie.  Grondbesit is ‘n voorreg wat deur inspanning en vaardigheid verdien word in ‘n vrye-mark ekonomiese stelsel.  Die TLU beveg egter die wit onteieningsproses deur nadruk te plaas op die grondwetlike regte van burgers sowel as die handhawing van vrye ekonomiese beginsels en behoud van voedselsekerheid en volhoubare landbou-beoefening.

 

 

VOLKOME VRYHEID DIE ENIGSTE BLYWENDE ANTWOORD

 

Wanneer die grondsage in oënskou geneem word, tesame met die totale staatsaanslag op die Boere–Afrikaner as etniese groep, is daar vir hom en sy kinders as sy erfopvolgers geen toekomstige vrye bestaansruimte binne die huidige swart gedomineerde wetgewende omgewing nie.  Daar is net een uitweg, net een opsie wat oop bly.  Die opsie van vryheid onder volkome soewereine eie gesag van ons eie broers deur onsself aangestel.  Daarom is die grondsage net so belangrik vir ons stedelike volksgenote.  Hierdie opsie kan landbou-organisasies nie genereer as beleid nie.  Dit moet begin posvat in die harte van ons mense op alle terreine en ons sal op grondvlak moet koördineer en ons volksgenote met nuwe hoop na die toekoms laat kyk en werk.

 

Die Boere–Afrikaner sal self sy maatskaplike en kulturele uiteinde moet uitmaak met sy verloopte broers en voor sy God, ons God van Bloedrivier en Majuba.  Ons Christus-gesentreerde kultuur is onverenigbaar met ‘n Afrika-boskultuur uit die ystertydperk.  Hierdie huidige bedeling sal ons moet erken as God se strafgerig oor ons omdat ons sy weë verlaat het.  Met ons moderne lewensingesteldheid het ons die getuienis vir sy Naam op alle lewensterreine versaak.  In die landbou het ons ons getuienis as rentmeesters van sy eiendom gruwelik verwaarloos.  Ons sal as Boerevolk in voortdurende verootmoediging moet gaan, omdat ons self geestelike agtergeblewenes geword het.

 

Ons sal die hand aan die ploeg moet slaan en by volksgenote die vryheidsvlam aansteek en vir mekaar intree in gebed tot ons Verlosser.  Ons sal vir ons globalistiese broers duidelike seine moet deurgee dat ons nie deel van hulle statistiek is wat hierdie Godlose regering wil bystaan in ons eie uitwissing nie.

 

Neem jou rentmeesterskap op in die nering waarvoor God jou laat berei het om sy koninkryk te dien.  Gee aan jou broer (jou volksgenoot) die eerste lossingsreg wanneer jy die landbou wil verlaat.  Rek die swart bemagtigingswette se grense tot by breekpunt toe – ons het tyd nodig.

 

Neem ons broers en susters in diens.  Dis ons plig.  Daar is tans 900 000 van hulle werkloos.  Veiligheid sal hiermee na ons plase terugkeer.  Wees geduldig met hulle op plase solank hulle landbouvaardighede aanleer.  Vir ons broers in die korporatiewe wêreld sê ons daar is ‘n magdom van kennis en vaardigheid wat onbenut lê – werkloos.

 

Voed ons kinders self op onder Christus se gesag alleen.  Maak gereed vir die Josafat-opsie.  “Trek die volle wapenrusting aan en gaan na die strydperk en kom kyk hoe Ek jou vyand voor jou verslaan.”  Kom ons doen dit op alle lewensterreine.  Kom ons stel opnuut in vooruitsig die nastrewing van die Gelofte dat ons ‘n Boerevolkshuishouding tot sy eer onder sy wetgewende en territoriale gesag wil en sal vestig as Hy ons hierdie keer nog genadig sal wees.

 

Tot tyd en wyl die vryheidspad oopmaak voor ons, moet ons werk om die sin van volkome vryheid as enigste langtermyn opsie in die harte van ons mense te vestig en hulle kinders so op te voed, want ons is slegs knegte van die ALLERHOOGSTE alleen.

 

Afkortings:     DB:     Die Burger                

LBW:  Landbouweekblad               

FM:     Financial Mail

 

 

PIKETBERG
Adres:
Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel:
(022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos:
BVI@xsinet.co.za