VIR VRYHEID EN REG

 

N BEKENDSTELLING

 

ONTSTAAN

 

Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief (BVI) is formeel in die lewe geroep tydens ‘n Krugerdagherdenking wat op Saterdag 12 Oktober 2002 op die plaas Matjiesfontein naby Calvinia gehou is.  Die BVI het sy ontstaan te danke aan die honderdjarige herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog van die Boere-republieke teen Brittanje en het direk voortgevloei uit die aktiwiteite van die Swartland Boere-oorlog Herdenkingskomitee.  Vir die stigters van die BVI is dit duidelik dat die offers wat in ons volk se geskiedenis vir die vryheidsideaal gebring is, tesame met die huidige voortbestaanskrisis van die Afrikanervolk, die herwinning van ons vryheid ‘n dwingende noodsaaklikheid maak en dat die stryd daarvoor sonder enige verdere versuim hervat moet word.  In die vormgewing van die beweging is ryklik geput uit die geskiedenis van ons volk se vryheidstryd en daar is rekening gehou met die ware aard en wese van die Afrikanervolk.

 

DOEL

 

Die doel van die BVI is om hom te beywer vir die herlewing van die vryheidsideaal in die harte van Afrikaners.  Die vryheidstryd sal slegs hervat kan word wanneer daar weer ‘n vryheidsideaal is.

 

HOOFKENMERKE EN FUNKSIONERING

 

·         Die BVI is ‘n vrye, spontane assosiasie van alle Afrikaners wat die vryheidsideaal nastreef en elke persoon wat die Boere-Afrikaner Vryheidsbelofte onderteken is outomaties deel daarvan.  Dit opereer in die ware gees van die Kaapse rebelle, wat spontaan en vrywillig by die Boeremagte aangesluit omdat hulle hulleself met die Boere-vryheidsideaal vereenselwig het.

 

·         Die BVI is nie ‘n politieke party nie en beoog ook nie om een te word nie.  Dit het geen formele verbintenis met enige bestaande politieke, kulturele of kerklike organisasie nie, maar sal goeie verhoudings nastreef met enige organisasie wat die vryheidsideaal bevorder in dieselfde gees en styl as die van die BVI.  Die BVI gaan nie betrokke raak by die politieke strydvoering van die dag nie, omdat hy die huidige regeringsbestel as van verbygaande aard beskou.  Dit streef ‘n langtermyn, blywende staatkundige bestel vir Afrikaners na.

 

·         Die BVI wil sy doelstellings nastreef langs vreedsame en politieke weg gebaseer op die reg van volke om vry te wees. Dit beoog nie enige gewelddadige of ondergrondse aksies nie en het geen geheime agenda of verbintenisse met geheime organisasies nie.

 

·         Die langtermyn strategiese doelwitte van die BVI is soos volg:

 

Ø       Om ‘n toegewyde kerngroep van Boere-Afrikaners, wat die vryheidsideaal hulle eie maak, saam te snoer in ‘n hegte, kragtige eenheid.

Ø       Om die breë volkslae tot op voetsoolvlak te oortuig van die noodsaaklikheid van ‘n nuwe Afrikanerrepubliek.

Ø       Om uiteindelik van die regering van die dag te eis om afstand te doen van sy gesag oor Afrikaners en Afrikanergrondgebied sodat ‘n eie Afrikanerregering deur Afrikaners daargestel kan word.  Onder Afrikanergrondgebied word al die grond wat histories Afrikanerland is, verstaan.

 

·         Die werksmetode sal soos volg wees:

 

Ø       Elke ondersteuner van die BVI werf ten minste nog vyf nuwe persone wat bereid is om die Boere-Afrikaner Vryheidsbelofte te onderteken.  Die projek staan bekend as  Vyf vlamme vir Vryheid.  So word daar voortgegaan totdat die vryheidsbelofte deur ongeveer 5% van die Afrikanervolk geteken is.  (Die geskiedenis het bewys dat die vryheidstryd oor die eeue heen altyd net deur ‘n klein minderheid geveg en gewen is, nooit meer as 5% van ‘n volk nie).   Ter wille van persoonlike beskerming van ons ondersteuners word geen naamlyste op enige vlak in die beweging gehou nie.  Alle kommunikasie tussen ondersteuners geskied deur regstreekse kontak binne ‘n piramide-struktuur.  Die ondersteunerstal sal bepaal word aan die hand van die aantal beloftes wat uitgereik is.

Ø       Sodra die voorgaande doelwitte bereik is, sal daar voortgegaan word om deur middel van volksvergaderings en ander aksies ‘n meerderheid Afrikaners se steun vir die totstandkoming van ‘n nuwe Afrikanerrepubliek te verkry.

 

·         Die BVI funksioneer organisatories soos volg:

 

Ø       Die BVI word gelei deur ‘n Sentrale Vryheidskomitee (SVK) wat tydens die stigtingsvergadering  in die lewe geroep is en wat deur koöptering aangevul word.  Die SVK neem leiding met die vestiging van die beweging en is verantwoordelik vir die rigtinggewende besluitneming.  Die lede van die SVK is die eerste ondertekenaars van die Boere-Afrikaner Vryheidsbelofte en neem ook die inisiatief om verdere ondertekenaars te vind. 

Ø       Die dag-tot-dag bestuur word gedoen deur ‘n dag-bestuur van vier lede wat uit die volgende persone bestaan: 

Dr Ronnie van der Merwe van Fraserburg (Voorsitter)

Mnr Frikkie Strauss van Piketberg (Sekretaris / tesourier)

Mnr Tienie Dumas van Fraserburg (Addisionele lid)

Mnr Japie Chambers (Addisionele lid)

 

DIE BOERE-AFRIKANER VRYHEIDSBELOFTE

 

Die Boere-Afrikaner Vryheidsbelofte is ‘n dokument waarin die Afrikanervolk se versugting tot vryheid uitgedruk word en waarin die ondertekenaar homself tot die vryheidsideaal en die verwesenliking daarvan verbind.  Die belofte vind sy oorsprong in die belofte wat Transvaalse burgers op 11 Desember 1880 aan mekaar gemaak het om Transvaal se vryheid te herwin, maar bevat ook elemente van die Van Riebeeck-gelofte van 1654 en die Bloedrivier-gelofte van 1838.  Dit is ‘n innerlike ooreenkoms wat elke Boere-Afrikaner met homself aangaan.  Elke persoon wat die belofte teken, verbind nie net homself tot die vryheidsideaal nie, maar onderneem om nog ten minste vyf ander persone te vind wat die belofte sal teken.  Hy/sy verbind homself ook tot die bevordering van die doelstellings van die BVI in die algemeen.  Hy/sy hou die belofte daarna in sy besit.  Dit sal op hoë kwaliteit papier gedruk word sodat diegene wat dit wil vertoon, dit met trots kan doen en dit as ‘n erfstuk kan nalaat aan hulle nageslag.

 

DIE BEGRIP “BOERE-AFRIKANER”

 

Die begrip “Boere-Afrikaner” dui op ‘n Afrikaner wat homself positief met die Afrikanervolk se geskiedenis en vryheidstrewe vereenselwig en wat Die Bybel, wat die Hervorming ten grondslag gelê het, as die grondslag van sy eie lewe aanvaar. Die 1933 Afrikaanse Bybel is ‘n voorbeeld daarvan. Dit is die ideaal van die BVI dat alle Afrikaners uiteindelik Boere-Afrikaners sal word.

 

DIE EMBLEEM

 

Die embleem bevat basies drie elemente, wat soos volg verduidelik kan word:

 

Die vlag is die simbool van vryheid en is ‘n uitdrukking van die  totale karakter van die BVI.  Die oranje-blanje-blou gedeelte is ontleen aan die Prinsevlag waaronder die Huis van Oranje gedurende die 16de en 17de eeue in die Nederlande die stryd teen die Spaans/Rooms-Katolieke oorheersing gevoer en gewen het.  Dit simboliseer in wese die waardes van die Hervorming, naamlik die soewereiniteit en oppergesag van God sowel as die vryheid van individue en volkere om God te dien volgens Bybelse riglyne en vry van enige vorm van vreemde oorheersing.  Vryheid word in sy wydste betekenis verstaan.  Die groen baan simboliseer die Afrikanerkarakter wat aan die begrip vryheid gegee word.

 

Die vyf vlamme beeld die doel van die BVI naamlik, die herlewing van ons vryheidsideaal uit.  Dit spreek ook van die kernwerkswyse van die beweging, naamlik dat elke persoon die vryheidsvlam in die harte van nog vyf ander moet aansteek.

 

Die woorde Ons het ‘n toekoms is ‘n uiting van ons geloof dat ons deur God se genade nie hoef te twyfel dat ons wel ‘n toekoms het nie.

Die ovaalvormige sirkel spreek van ‘n duidelike afgegrensde entiteit, naamlik die Afrikanervolk en van ‘n gees van eensgesindheid binne daardie entiteit.

 

ALGEMEEN

 

Die BVI bied aan Boere-Afrikaners die geleentheid om binne ‘n geordende struktuur ‘n positiewe en skeppende bydrae tot die herlewing van ons volk se vryheidsideaal en die uiteindelike totstandkoming van ‘n nuwe, vrye Afrikanerrepubliek te lewer.   In die hart van elke Afrikaner wat die vryheidsbelofte teken het die vryheidstryd ontbrand en vir hom/haar geld die woorde van die denker George Byron: “Die vryheidstryd, as dit eenmaal begin, word van die vader bloeiend deur die seun geërf, en die stryd sal altyd, hoe moeilik ookal, gewen word.”

 

KONTAKBESONDERHEDE

         

Adres

Langstraat 101, Piketberg / Posbus 339, Piketberg, 7320

Selfoon

082  4933 785

Faks

022  913 1482

E-pos 

BVI@xsinet.co.za

Telefoon

Ronnie van der Merwe

02072 vra vir 2221

 

Frikkie Strauss

022  913 2391 / 913 2353

 

Tienie Dumas

053  3812 vra vir Loxton 1640

 

Japie Chambers

Sel : 083   317 2980       

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za