‘N STRATEGIE VIR DIE

 

HERWINNING VAN AFRIKANERVRYHEID

 

INLEIDING

 

n Versugting na vryheid en die daarmee-gepaardgaande stryd teen vreemde oorheersing was deel van die Afrikaner se volkslewe sedert sy ontstaan.   Sy geskiedenis is afgewissel met tye van vryheid en tye van verknegtheid.  Tans verkeer ons weer in die verknegtheidsfase.  Daar is ook weer baie Afrikaners wat die verlange na vryheid in hulle harte het en in die geledere van sodanige Afrikaners is daar tans ‘n lewendige debat aan die gang oor die strategieë wat gevolg moet word om ons vryheid te herwin.  Met hierdie geskrif probeer die BVI ‘n beskeie bydrae tot dié debat lewer.  Die onderwerp sal aan die hand van die volgende temas hanteer word:

 

·        Die historiese verloop van ons vryheidstryd en die strategieë wat in die verskeie fases gevolg is.

Ten einde op ‘n ingeligte en doeltreffende strategie vir ons huidige vryheidstryd te besluit moet ons kennis neem van die strategieë wat ons voorouers gevolg het.  Daar is min volke in die wêreld wat ‘n meer intense stryd teen vreemde oorheersing as die Afrikanervolk gehad het.

 

·        Die vryheidsaksies wat tans aan die gang is.

In hierdie afdeling word die bestaande vryheidsaksies kortliks in oënskou geneem en beoordeel.

 

·        Voorgestelde strategieë.

Gebaseer op ons historiese ervaring en die eise wat die huidige omstandighede aan die suksesvolle herwinning van ons vryheid stel, word strategieë aan die hand gedoen.

 

·        Die BVI se bydrae tot die vryheidstryd.

In hierdie afdeling word die bydrae wat die BVI graag tot ons vryheidstryd wil lewer, kortliks geskets.

 

DIE HISTORIESE VERLOOP VAN ONS VRYHEIDSTRYD

 

Die Afrikaner se stryd teen vreemde oorheersing is hoofsaaklik gevoer teen die Hollanders, die Britte en die swartes.  Al hierdie magte het egter ook in ‘n wisselende mate van meelopers uit Afrikanergeledere vir die bereiking van hulle doelstellings gebruik gemaak en daar was tye wat die stryd sterk op hulle gefokus was.

 

Verskillende metodes is in verskillende fases  van die stryd gebruik.  Daar is getrek, geveg en gestem.  Tydens die bewind van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) het die koloniste, wat die gees van die vryburgers in hulle harte gehad het eenvoudig net al verder Ooswaarts getrek om so aan die Hollandse beheer te ontkom.  Toe trek nie meer moontlik was nie, is daar oorgegaan tot politieke aksie en die republieke van Graaff-Reinet en Swellendam het daaruit voortgevloei.  Die eerste jare van die Britse bewind is gekenmerk deur politieke optrede en sporadiese fisiese weerstand (Slagtersnek), maar die Groot Trek was uiteindelik die Afrikaner se antwoord op Britse heerskappy.  Met die swartes in die binneland se bedreiging vir die Afrikaner se vryheidstrewe is daar betreklik gemaklik langs militêre weë gehandel en twee onafhanklike Boere-republieke is gestig. 

 

Toe die Britte in 1877 vir Transvaal geannekseer het, is daar probeer om onafhanklikheid langs diplomatieke en politieke weë herstel te kry maar toe dit vrugteloos geblyk het, het die Eerste Vryheidsoorlog uitgebreek.  Na die slag van Majuba, waartydens die Britte vernederend deur die Boeremagte van Transvaal verslaan is, was die Britte gedwing om Transvaal se onafhanklikheid te verken.  Toe die Britse bedreiging gedurende die negentigerjare weer op die voorgrond getree het, is die diplomatieke uitweg weereens gekies maar dit het spoedig geblyk dat die Britte met niks minder as die beëindiging van Transvaal se onafhanklikheid tevrede sou wees nie en die Tweede Vryheidsoorlog was die onvermydelike gevolg daarvan.  Hierdie keer moes die Boere egter die knie voor die Britte buig, hoofsaaklik vanweë laasgenoemde se aanslag op die  Boerevroue -en kinders. Transvaal, sowel as die Vrystaat wat hom aan die kant van Transvaal geskaar het, het gevolglik hulle vryheid in 1902 verloor.  Tydens hierdie oorlog het die meeloperelement reeds sterk op die voorgrond getree.

 

Die vryheidsliewende Afrikaners het egter nie by hierdie verlies van hulle vryheid berus nie en die stigting van die Het Volk party in Transvaal in 1904 het die politieke stryd om die herwinning van die vryheid ingelui.  Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is Afrikaners in die twee voormalige republieke en die Britse kolonies van Kaapland en Natal in staat gestel om hulle kragte te konsolideer.  Dit het egter spoedig na 1910 geblyk dat die vernaamste leiers van die Suid-Afrikaanse Party (SAP), by name Generaal Botha en Generaal Smuts die vryheidsideaal van die Afrikaner vaarwel toegeroep het ten einde die guns van die Britte te wen.  Dit het die eerste fase van aktiewe stryd teen Britse meelopers in Afrikanergeledere ingelui. Die stigting van die Nasionale Party (NP) in 1914 en die mislukte rebellie van daardie jaar was die begin daarvan. 

 

Tydens die verkiesing van 1924 het die NP onder leiding van Generaal J B M Hertzog die bewind oorgeneem.  In hierdie periode het daar ‘n proses van geleidelike losmaking van die Britse Ryk plaasgevind, maar die republikeinse ideaal self was redelik op die agtergrond.  Die politieke verwikkelinge van die dertigerjare, waartydens die NP en die SAP saamgesmelt het, sowel as die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het die republikeinse ideaal onder Afrikaners egter weer laat herlewe en in 1942 word ‘n mosie deur Dr D F Malan van die Herenigde Nasionale Party in die Parlement ter tafel gelê waarin gepleit word vir die totstandbrenging van ‘n republiek in Suid-Afrika.  Hierdie fase van die vryheidstryd is ook grootliks deur stryd teen Britse meelopers onder leiding van Generaal  Smuts gekenmerk.  

 

Die verkiesingsoorwinning van die Nasionale Party in 1948 het die weg gebaan vir die effektiewe nastrewing van die republikeinse ideaal, veral onder die leiding van manne soos Adv J G Strydom en Dr H F Verwoerd.  Op 31 Mei 1961 word hierdie ideaal verwesenlik met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika (RSA) buite die Britse Statebond en dit het gelyk asof die Britse bedreiging vir die Afrikaner en vryheidstrewe uit die weg geruim is.  Die teenwoordigheid van groot getalle swartes in Suid-Afrika het egter aan die Britte die geleentheid gebied om die aanslag op Afrikanervryheid op ‘n ander wyse voort te sit.

 

Die getalle-oorheersing van die swartes in Suid-Afrika het reeds vroeg in die bestaan van Suid-Afrika die besef by Afrikaners laat posvat dat daar gebiedskeiding moet kom sodat die Afrikanervolk en die swart volkere elkeen hulle eie grondgebied kan hê waarin hulle hulleself kan regeer.  Dit het uiteindelik uitgekristalliseer in die beleid van afsonderlike ontwikkeling waarin daar voorsiening gemaak is van die toekenning van volledige politieke selfbeskikking in hulle eie gebiede aan die swart volkere in Suid-Afrika wat dit wel verlang.  Die Wet op Selfregering vir die Transkei in 1963 was die eerste konkrete stap wat onder leiding van Dr Verwoerd in hierdie rigting geneem is. 

 

Gedurende hierdie periode het dit duidelik geword dat die Afrikanervolk besig was om te groei tot een van die sterkste volkere in die wêreld (ten spyte van sy klein getalle) en dat Afrikaners besig is om hulle greep op hulle eie land almeer en meer te versterk.  Dit het vir sekere magte in die wêreld, waaronder die Britte, die Amerikaners, die kommuniste en die voorstanders van ‘n een-wêreld-staat glad nie gepas nie en hulle het stappe geneem om die Afrikanerregering in Suid-Afrika te beëindig.  Hierdie stappe was eers van politieke aard (stigting van die Progressiewe Party en die gebruik van die media om Dr Verwoerd verdag te maak) en later van militêre aard (die ANC/SAKP-sameswering onder leiding van Nelson Mandela en andere om die regering met geweld omver te werp).  Toe al hierdie pogings deur die kragtige leierskap van Dr Verwoerd vernietig is, was daar net een uitweg oor:  Dr Verwoerd moes uit die weg geruim word. Dit het gebeur toe hy op 6 September 1966 deur die sluipmoordenaar Tsafendas in die Parlement vermoor is.

 

Dr Verwoerd is as leier van die NP en Eerste Minister van Suid-Afrika opgevolg deur mnr John Vorster, wat ‘n  Brits/Amerikaanse meeloper was en dit het spoedig geblyk dat byna die hele Afrikanerleierskap op politieke, ekonomies, kulturele en kerklike gebied saam met hom die Afrikaner se vryheidsideaal vaarwel toegeroep is.  Daar is spoedig begin om die beginsel van volkereskeiding, wat die basis van die behoud van die Afrikaner se vryheid as volk was, deur kleiner toegewings af te breek.  Vir versiende Afrikaners was dit duidelik dat swart politieke oorheersing en die gevolglike verlies van Afrikanervryheid die noodwendige gevolg van hierdie prinsipiële afwykings sou wees.  Dit het die langste periode van politieke stryd teen Afrikanermeelopers ingelui.  ’n Skeuring het in die NP plaasgevind in dit het uitgeloop op die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP) in 1969. 

 

As gevolg van die oorweldigende mag van die NP, die Broederbond, die media en die hele netwerk van Afrikanerorganisasies op kulturele en kerklike gebiede het die HNP tydens die eerste drie verkiesings van 1970, 1974 en 1977 baie swak gevaar.  Tydens die verkiesing van 1981 het die HNP egter ‘n deurbraak gemaak toe hy bykans 16% van die stemme op hom verenig het.  Die skrif was aan die muur vir die NP en die magte wat hom gebruik het om ‘n swart regering in Suid-Afrika aan die bewind te kry.  Die destydse redakteur van Die Burger, mnr Piet Cillie, het byvoorbeeld geskryf:  Dit is nog nie rampspoedig nie maar dit is onheilspellend (natuurlik vir die agenda van diegene wat hy verteenwoordig het).  Die taktiek van verdeel-en-heers is in werking gestel en Dr Andries Treurnicht en ‘n groep ontevrede LV’s in die NP is onder invloed van meelopers oorreed om ‘n nuwe politieke party regs van die NP te stig.  Die Konserwatiewe Party (KP) het so in 1982 tot stand gekom.  Die KP het dadelik, vanweë die redelike aansien van Dr Treurnicht, meer steun as die HNP begin trek.  Dit het effektief die doodsklok vir Afrikanervryheid gelui want die KP-leiers was reeds, vanweë die feit dat hulle vir 13 jaar na die stigting van die HNP nog in die NP gebly het, prinsipieël gekom-promitteer en hulle was magteloos om enige doeltreffende, beginsel-gebaseerde weerstand teen die oorgaweproses van die NP te bied.  Die HNP het grootliks by die kiesers in ‘n onguns verval en kon dus nie meer optree as ‘n instrument om die vernietiging van Afrikanervryheid te stuit nie.  Dit het dan noodwendig uitgeloop op die totale kapitulasie van die NP in 1990 en die ANC-bewindsoorname in 1994.  Die Afrikanervolk het sy vryheid verloor en het die onderdane van ‘n swart regering geword.  Dit was ‘n waterskeidingsgebeurtenis en die begin van ‘n nuwe fase in ons stryd teen vreemde heerskappy, naamlik dié teen swart oorheersing.  In die volgende afdeling sal hierdie fase bespreek word. 

 

 

 

DIE KONTEMPORÊRE FASE VAN DIE VRYHEIDSTRYD

 

Die eerste vyf jaar na 1994 was gekenmerk deur totale verslaentheid onder Afrikaners en namate die besef van die praktiese gevolge van hulle verlies aan politieke mag ingetree het, het die verslaentheid, moedeloosheid en gebrek aan selfvertroue toegeneen.  Baie het hulle hoop daarop geplaas dat die NP en die Vryheidsfront binne die parlementêre raamwerk vir die Afrikaner iets kon beding.  Hierdie hoop is egter verydel met die verkiesingsuitslae van 1999 en finaal gekelder in 2004 toe beide hierdie partye tot onbenullighede gereduseer is.  In die periode na 1994 tot en met sy dood in Augustus 2000 was mnr Jaap Marais, leier van die HNP, omtrent die enigste Afrikanerleier wat in staat was om aan Afrikaners duidelike leiding en hoop vir die toekoms te gee omdat hy onwrikbaar bly glo het in die Bybelgebaseerde beginsels van Afrikanernasionalisme en vas oortuig was dat die ANC-bedeling van korte duur was en noodwendig op een of ander stadium in duie moes stort.

 

Die jaar 1999 het egter ‘n nuwe fase van die kontemporêre stryd ingelui.  Die politieke neerlaag van die NP by die stembus het veroorsaak dat hy sy geloofwaardigheid en invloed onder Afrikaners verloor het en nie net hy alleen nie, maar ook die ander Afrikanerorganisasies op kulturele en kerklike gebiede wat die NP ondersteun het.  Daardeur is die invloed wat Afrikanermeelopers op Afrikaners se politieke denke en handelinge gehad het grootliks geneutraliseer en Afrikaners het meer selfstandig oor hulle politieke toekoms begin dink.

 

Die tweede gebeurtenis van die jaar 1999, wat ‘n rol gespeel het om Afrikanerdenke in ‘n ander rigting te stuur, was die honderdjarige herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog wat in Oktober 1999 ‘n aanvang geneem en tot Mei 2002 geduur het.  Dit het ‘n oplewing van Afrikanernasionalisme, van Afrikaneridentiteitsbewussyn en van die vryheidsideaal onder Afrikaners teweeggebring.  n Hele aantal bewegings wat in ‘n mindere of meerdere mate die vryheidsentiment gedra het, het in dié tyd tot stand gekom.  Onder hulle is die Sameroepersinisiatief, die Afrikaneralliansie en die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG).  Intussen het bestaande bewegings soos die HNP, die Verkenners en Radio Pretoria ook voortgegaan om die vryheidsgedagte te verkondig.  Nie een van die bewegings het egter die vryheidsideaal as hulle uitsluitlike doelstelling nie.  Hulle is almal in ‘n mindere of meerdere mate by protes- en versetaksies op die terreine van taalverontregting, onderwys, regstellende aksie, plaasmoorde,  misdaadbekamping, naamsveranderinge, ens., betrokke.

 

Die genoemde bewegings het verskillende strategieë om hulle doelstellings te bereik.  Die HNP glo dat die ANC-bedeling op die rand van ineenstorting staan en dat dit die geleentheid aan ons sal bied om ons vryheid te herwin.  Deur die mondstuk van die party, Die Afrikaner, gaan hulle voort om die swakhede van die huidige bedeling aan die kaak te stel en moedig Afrikaners aan om aan die beproefde beginsels van Afrikanernasionalisme vas te hou.  Die inligting wat in Die Afrikaner verskaf word, is uiters waardevol en is nêrens in die openbare media verkrygbaar nie.  Die HNP verwerp die ANC-regering as onwettig en neem nie deel aan verkiesings of aan enige regeringstrukture se werksaamhede nie.

 

Die Sameroepersinisiatief werk op ‘n verskeidenheid van terreine van die volkslewe en hulle probeer om ‘n sambreelliggaam te skep waarbinne eenheid tussen die verskillende nasionaalgesinde Afrikanerorganisasies verkry kan word.  Hulle maak daarop aanspraak dat ongeveer 53 organisasies by hulle geaffilieër is.  Hulle opereer, soos die HNP, buite-parlementêr en buite die amptelike regeringstrukture.

 

Die Afrikaneralliansie probeer ook om eenheid tussen Afrikaners te bewerkstellig ten einde ‘n gesamentlike spreekbuis vir Afrikaners in hulle onderhandelinge met die ANC te skep.  Hulle glo dat ‘n beter bedeling vir Afrikaners geskep kan word deur deel te neem aan die sogenaamde Art. 185-kommissie en ander strukture wat deur die regering vir die beskerming van minderheidsbelange geskep is.

 

Die Vryheidsfront glo dat hulle in staat is om Afrikanerbelange op die parlementêre gebied te bevorder.

 

Uit ‘n objektiewe evaluering van die bogenoemde organisasies se vryheidsaksies moet ‘n mens ongelukkig tot die gevolgtrekking kom dat, behalwe vir die instandhouding van die vryheidsideaal, daar sedert 1994 nog geen konkrete vordering op die vryheidspad gemaak is nie.  Die redes daarvoor is o.a. die volgende:

 

-         Daar is ‘n gebrek aan ‘n duidelike geformuleerde vryheidsvisie en aan konkrete programme wat gevolg moet word om die verlangde vryheid te herstel.  Die nastrewing van die vryheidsideaal is meestal maar slegs een punt op ‘n agenda wat somtyds uit ‘n groot aantal items bestaan en aangesien skaars menslike en finansiële hulpbronne tussen hierdie items verdeel moet word, kan daar nie ten volle op die vryheidsideaal gefokus word nie.  Ander meer onmiddellike doelwitte soos taalverontregting en verandering van plekname kry eerste aandag.

 

-         Daar word nie met die vryheidstryd deurgedring tot op voetsoolvlak nie.  Die meeste van die bestaande bewegings fokus op die skepping van nuwe organisatoriese strukture en die instandhouding van bestaandes.  Baie tyd word aan uitgerekte vergaderings bestee en groot somme geld word aangewend vir die instandhouding van administratiewe kantore.  Gewone Afrikaners word baie selde by die stryd betrek.  Baie van die organisasies laat ‘n mens onwillekeurig dink aan ‘n leër met baie generaals en ander hoë offisiere wat planne beraam vir ‘n oorlog maar sonder dienodige voetsoldate om hulle planne uit te voer.

 

-         Daar vind bykans geen direkte kontak met die vreemde oorheerser plaas nie.  Die aksies wat geneem word, bestaan hoofsaaklik uit besluite op vergaderings wat  somtyds in die vorm van persverklarings aan die koerante uitgereik word, of die werf van handtekeninge op ‘n petisie of uit protesoptogte wat ongelukkig net deur klein getalle Afrikaners ondersteun word.  Al hierdie aksies kan gerieflik en sonder groot risiko deur die regering geïgnoreer word.  Vir hulle is dit maar net soos ‘n paar plakkaatswaaiende betogers langs die roete waarlangs hulle na ‘n belangrike geleentheid beweeg.  Hulle sal eers daarvan kennis neem as daar ‘n versperring opgerig word in die pad waarlangs hulle beweeg en hulle beweging daardeur gestuit word.

 

-         Dit wil voorkom asof baie Afrikanerorganisasies en –individue nie besef dat die nuwe stel omstandighede wat na 1994 ingetree het, nuwe strategieë verg nie.  Voor 1994 was die stryd van nasionaalgesinde Afrikaners gerig teen ‘n Afrikanerregering wat die vryheidsideaal die rug toegekeer het en besig was om die mag aan ‘n swart regering te oorhandig.  Die hoofoogmerk van die voor-1994 stryd was om die NP-regering by die stembus uit die kussings te lig.  Dit was teoreties wel moontlik omdat die Volksraad slegs deur blankes verkies was en dit dus moontlik was om ‘n Afrikanerregering daar te stel wat Afrikanervryheid sou beskerm.  Binne die nuwe politieke bedeling maak enige politieke stryd teen die huidige regering geen sin meer nie, want dis struktureel onmoontlik om deur middel van die stembus ‘n Afrikanerregering aan die bewind te kry.  Dit lyk egter asof die meeste Afrikaners nog in ‘n strydmodus is wat sy tersaaklikheid verloor het.

 

 

 

VOORGESTELDE STRATEGIEË

 

Teen die agtergrond van die historiese verloop van ons vryheidstryd en die ervaring in die huidige fase daarvan soos hierbo geskets, is die BVI van mening dat ons vryheidstrategie uit die volgende elemente moet bestaan:

 

·        DIE HERLEWING VAN DIE VRYHEIDSIDEAAL ONDER AFRIKANERS TOT OP VOETSOOLVLAK

 

Vryheid is die Godgegewe reg van elke volk op aarde wat gewillig is om die offers daarvoor te bring.  Daardie reg moet egter deur ‘n volk uitgeoefen word deurdat hy die wil openbaar om vry te word.  Indien die meerderheid lede van ‘n volk of ten minste ‘n betekenisvolle deel daarvan op ‘n konkrete wyse hulle wil uitspreek om vry te wees van vreemde oorheersing en hulleself te regeer, kan geen mag op aarde so’n volk dit misken nie.  Die wil van ‘n volk om vry te wees, daal egter nie op ‘n goeie dag skielik uit die blou lug op so’n volk neer nie. Dit kom tot stand deurdat individuele lede van daardie volk in hulle harte die wilsbesluit neem om vry te wees en dit aan medevolksgenote kommunikeer.  So, en so alleen, neem die vryheidstrewe vorm aan in ‘n volk.

 

Die groot probleem by die Afrikanervolk is dat die vryheidsideaal as gevolg van die dekadeslange proses van negatiewe kondisionering grootliks in die harte van ons volksgenote verflou het.  Individuele Afrikaners sal gekonfronteer moet word met die keuse tussen nimmereindigende verknegtheid onder vreemde heerskappy of die voorreg om weer deel van ‘n vrye volk te wees.  Alvorens enige Afrikaner in sy individuele hoedanigheid by ons vryheidstryd betrokke kan raak en ander Afrikaners vir die vryheidsaak kan werf, moet hy die vryheidsideaal sy eie maak en in sy hart omhels.  Dit is die heel eerste stap in die vryheidstryd.  Niemand sal daardie keuse kan ontwyk nie.  Ons vyand stel ons voor daardie keuse en as ons nie die keuse maak nie, sal hulle dit vir ons maak.  Deur nie ‘n positiewe keuse vir vryheid te maak nie, kies ‘n mens outomaties teen vryheid en vir slawerny.  Die bekende denker Edmund Bourke het gesê:  “Al wat die kwaad nodig het om te floreer, is dat goeie mense niks doen nie.”

 

Op hierdie vlak lê die grootste taak van Afrikanerorganisasies en individue wat reeds die vryheidsideaal hulle eie gemaak het.  Hierdie aanvangsfase van die vryheidstryd sal ‘n sielkundige oorlog wees.  Die strategiese doelwit is om mede-Afrikaners se harte en denke vir die vryheidsideaal te wen.  Dit is dus ‘n stryd tussen idees en ideologieë en in so’n stryd is elke individuele gesprek ter bevordering van jou idee ‘n konkrete oorlogsdaad.  Met elke Afrikaner wat vir die vryheidsidee gewen word, gee ons ‘n tree vorentoe en dring ons in vryandsgebied in.  Garibaldi het met 1 000 man in Sicilië begin.  Toe hy in Italië land, het die getalle gegroei tot 3 000 en enkele dae later het 10 000 saam met hom deur die strate van Napels marsjeer.  Kort daarna was Italië van Franse en Oostenrykse heerskappy bevry.  Netso kan die honderde duisende treë van individuele Afrikaners uiteindelik saamvloei in ‘n nasionale opmars na vryheid.

 

Ons moet geen geleentheid laat verbygaan om met ‘n familielid, vriend of kennis oor die vryheidsideaal te praat nie.  Die grootskaalse negatiwiteit onder Afrikaners teenoor die huidige bedeling skep elke dag duisende geleenthede vir sodanige gesprekke.  Indien ‘n persoon oor iets kla, sê vir hom/haar dat daar ‘n positiewe alternatief is en verduidelik die vryheidsopsie. Mense kan ook vir die vryheidsideaal gewen word deur middel van informele huisvergaderings, videovertonings en openbare vergaderings.  Deur briewe en advertensies in koerante en deur deelname aan inbelprogramme kan die vryheidsdebat na die openbare platform geneem word.  Baie kan bereik word deur literatuurverspreiding.

 

Die elektroniese media moet as kragtige wapens in ons hande beskou word.  Baie Afrikaners het toegang tot die internet en daar is min wat nie oor selfone beskik nie.  Dit bied aan ons die geleentheid om bykans die ganse Afrikanervolk met die vryheidsboodskap te bereik, en wel teen ‘n fraksie van die koste en tyd verbonde aan die gebruik van die konvensionele media.  n Enkele SMS-boodskap kan binne dae by omtrent alle Afrikaners afgelewer word.  Dink byvoorbeeld aan die 16-52 telling van die toets tussen die Springbokke en die All Blacks.  Die vryheids-boodskap kan in stilte deur die elektroniese golwe oor duisende kilometers in die harte van mede-Afrikaners afgelaai word.  In die sielkundige oorlog waarin ons ons tans bevind, het ‘n enkele treffende SMS-boodskap soortgelyke strategiese waarde as wat die langafstand geleide missiele, wat van een kontinent na ‘n ander gevuur kan word, in ‘n konvensionele oorlog kan hê.  So kan die vestings van die leuen, waarin ons mense gevange gehou word, met die projektiele van die waarheid vernietig word en ons mense geestelik bevry word.  Wanneer SMS-e en e-pos-boodskappe gebruik word in samehang met ‘n webtuiste, waarna daar vir volledige inligting verwys kan word, verhoog dit die effektiwiteit daarvan.

 

Dit is die BVI se oortuiging dat alle Afrikanerorganisasies en –individue die vryheidstryd die hoofpunt op hulle agendas moet maak en die meeste hulpbronne daaraan toewys.  Binne die huidige bedeling is daar geen toekoms vir ons as Afrikaners nie en ons sal net ons tyd verkwis op aksies wat daarop gerig is om die ANC-regering sover te kry om dinge vir Afrikaners meer aanvaarbaar te maak.  Die heel beste bedeling wat deur die  ANC-heersers vir Afrikaners geskep kan word, behoort vir ons onaanvaarbaar te wees.  Ons stel nie belang in ‘n goeie, vreemde regering nie;  ons wil ‘n vrye volk onder ons eie regering word, al mag hy dalk tekortkominge hê.  Afrikanerorganisasies sal dus goed doen deur hulle agendas, hulle strukture, hulle werksmetodes en hulle aanwending van beskikbare hulpbronne grondig te heroorweeg in die lig van die dringendheid van die vryheidstryd.  In plaas van vergaderings kan werkswinkels gehou word om Afrikaners toe te rus vir aktiewe veldwerk op voetsoolvlak en die geld wat aangewend word om duur kantooradministrasies in stand te hou, kan gebruik word vir die verspreiding van inligting.  Om ‘n vryheidsbeweging van dié aard wat die huidige omstandighede verg op die been te bring en aan die gang te hou, verg nie baie nie.  Dit vra ‘n aantal geesdriftige, vryheidsliewende Afrikaners, ‘n persoon wat in staat is homself goed op skrif uit te druk en ‘n deeltydse werker wat vir die verspreiding van inligting en die kummunikasie binne die beweging verantwoordelik is.

 

·          SELFSTANDIGE FUNKSIONERING OP PLAASLIKE VLAK

 

Verantwoordelikheid moet afgewentel word na die plaaslike vlak.  Afrikaners in plaaslike gemeenskappe moet selfstandig funksioneer in die bevordering van die vryheidstrewe.  Hulle moenie nodig hê om te wag op besluite van ‘n hoër liggaam of op instruksies van ‘n hoofkantoor nie.  Dit bring slegs vertraging mee.  Organisatoriese strukture moet tot die minimum beperk word.  Dit skep net ruimte vir onderlinge twiste en vir insypeling en interne verlamming van die beweging deur agente van die vyand.  Veral sambreelorganisasies moet vermy word.  Afrikaners op plaaslike vlak moenie bang wees dat hulle verdeeldheid sal veroorsaak of op ander organisasies se terreine sal beweeg indien hulle met hulle eie, selfstandige vryheidsaksies in hulle gemeenskappe begin nie.  Daar kan honderde of duisende klein plaaslike vryheidsinisiatiewe wees, solank een net nie probeer om die ander te beheer of te manipuleer nie.  Iemand het gesê:  “As daar fonteine op verskillende plekke uitbreek, is dit ‘n teken dat die ondergrondse watertafel oor ‘n wye gebied besig is om te styg”.  Netso, as die vryheidsgees op verskillende plekke uitbreek, moet dit nie gesmoor word nie;  dit moet gesien word as ‘n teken dat die vryheidsideaal besig is om in die harte van Afrikaners te ontwaak en dit moet verwelkom en gestimuleer word. 

 

·            DIE VRYHEIDSTRYD MOET GERIG WEES OP DIE VEROWERING VAN SPESIFIEKE STRATEGIESE TEIKENS EN DAAR MOET SIGBARE SUKSESSE WEES

 

Ons vryheidstryd kan nie net bestaan uit ‘n algemene strewe na vryheid wat slegs in toesprake op vergaderings uitgedruk word nie.  Dit moet uitkristalliseer in konkrete programme en aksies, net soos dit in ‘n gewone oorlog gedoen moet word. So word daar in ‘n oorlog  byvoorbeeld altyd gepoog om vas te stel welke posisie  vir die vyand van strategiese belang in sy militêre plan is.  Daar word dan alles in die stryd gewerp om hom te verhoed om daardie posisie te beset of die posisie word self beset. 

 

In die geskiedenis van volkere was daar baie volke wat deur vreemde heersers onderwerp is.  Ten einde te verhoed dat sodanige oorwonne volke weer hulle vryheid herwin, is verskillende programme deur die oorwinnaars in werking gestel.  Die afdwing van die oorwinnaar se taal en kultuur en die fisiese uitwissing van die bestaande heersersklas is voorbeelde daarvan.  Na die ANC-oorname in Suid-Afrika is verskeie van hierdie programme ook in werking gestel en Afrikaners is reeds suksesvol uit baie van hulle strategiese vestings verdryf. Die proses moet nou omgekeer word. 

 

Ons moet egter nie probeer om die ANC op die hele gevegsfront aan te pak nie en probeer om landswye bewegings te loods en ambisieuse projekte aan te pak nie.  Ons beskik nie op die oomblik oor die menslike en finansiële hulpbronne daarvoor nie.  Dit sal beter wees as ons op spesifieke teikens konsentreer, al ons kragte daar monster en daardie vestings suksesvol beset of verower. 

 

Die verdrywing van Afrikaners van hulle erfgrond het nou opgeskuif tot in die hoogste posisie op die ANC-agenda.  Ons kan nie bekostig om hierdie vesting te verloor nie.  Daarom moet ons alles in die stryd werp om te verhoed dat die ANC dit beset.  In die laaste afdeling van hierdie stuk word daar weer na hierdie saak verwys.

 

·        DIE STRYD MOET  OP ‘N POSITIEWE, SKEPPENDE EN TOEKOMS-GERIGTE WYSE AANGEPAK WORD

 

In die vorige afdeling is daarop gewys dat die 1994-oorgawe aan die ANC ‘n hele nuwe stel omstandighede geskep het, en dit verg ingrypende aanpassings aan ons vryheidstrategie.  Voor 1994 was ons stryd hoofsaaklik negatief van aard en daarop gerig om die NP af te breek, wat nie ‘n onvanpaste benadering vir daardie fase van die stryd was nie.  Dit is egter nie goed vir die menslike gees om onbepaald in ‘n negatiewe georiënteerdheid te wees nie en dit is moeilik om mense se steun vir ‘n negatiewe saak te wen.  In 1994 is die NP en sy hele korps van handlangers op kulturele en kerklike gebiede uit die posisie van politieke mag verwyder en dit het aan ons die geleentheid gebied om ons vryheidstryd op ‘n positiewe, skeppende en toekomsgerigte wyse te begin voer, soos wat ons voorouers gedoen het.  Ons kan nou ons posisie verander vanaf teen-mense na vir-mense.

 

Ons moet vir onsself ‘n nuwe toekomsvisie formuleer, ‘n duidelike denkbeeld van waarheen ons wil gaan.  Ons moet ons geestesoë rig op die verre horisonne en die hoë bergspitse.  Ons moet vir onsself ‘n duidelike doelwit formuleer en daarmee na die volk toe gaan om hulle te begeester en te besiel om betrokke te raak by die verwesenliking daarvan.  Dit moet iets wees wat hulle verbeelding sal aangryp en waarmee hulle sal wil hardloop soos ‘n naelloper met ‘n aflosstokkie.  Ons moet weer koers en rigting kry in ons volkslewe.  In kort:  Ons moet ‘n nuwe toekoms skep.  Die vernaamste elemente daarvan moet die volgende wees:

 

·        ‘n Nuwe verbondenheid aan God

Die Woord van God moet die grondslag van ons volkslewe vorm en ons moet ons lot volkome in die hand van God plaas, soos die Voortrekkers by Bloedrivier gedoen het.

 

·        ‘n Nuwe vryheid van gees

Ons is die geestelike slawe van ander mense omdat die feite en beginsels waarop ons lewens gebaseer is van vreemdes, wat ons in ewigdurende knegskap wil hou, afkomstig is.  Ons denke moet gerig word deur die Woord van God, die beginsels van Afrikanernasionalisme en die feite van ons eie geskiedenis.

 

·        ‘n Nuwe Afrikanernasionalisme

Die beginsels van Afrikanernasionalisme, soos wat dit oor die eeue heen vasgelê is, moet herontdek, bevorder en uitgelewe word.

 

·        ‘n Nuwe identiteitsbewussyn

Ons moet tot ‘n ontdekking kom van ons ware identiteit soos wat dit histories ontwikkel het.  Dit sal ongekende kragte in ons volkslewe vrystel en sal die inspirasie wees van ‘n nuwe volkstrots.

 

·        ‘n Nuwe idealisme

Ons volk moet besiel word met die ideaal van vryheid in ‘n eie vaderland, dieselfde ideaal wat ons voorvaders gemotiveer het tot dade wat die wêreld verwonderd laat staan het.

 

·        ‘n Nuwe denkpatroon

Ons moet leer om op ‘n positiewe en skeppende wyse te dink oor die werklikhede  om  ons  en  oor  die  toekoms.  Ons denke moet op die Afrikaner gerig wees en nie op Suid-Afrika nie.  Die doelstellings van die “Nuwe Suid-Afrika” en die ideale en belange van die Afrikanervolk is geheel en al onversoenbaar met mekaar.  Dit kan nie gelyktydig nagestreef word nie.  In ons gees en denke sal ons onsself moet losmaak van Suid-Afrika en ons vasbind aan ons eie volk.

 

·        ‘n Nuwe openbare debat

Wanneer die volk gelei word om die nuwe toekomsvisie te begin bedink, sal die sake waaroor daaroor in die openbaar gedebatteer word radikaal verander.  Daar sal nie meer in die koerante geskryf word en getwis word oor die negatiewe dinge soos omgekeerde rassekriminasie in sport, die dalende waarde van die rand of oor die vigskwessie nie;  nee, die woordestryd sal gaan oor die elemente van die Afrikaner se nuwe toekomsvisie.

 

·        ‘n Nuwe kennisbasis en volksmedia

Die vloei van inligting, kennis en invloed vanuit die vyandiggesinde Engelstalige wêreld moet afgesny word en dit moet plek maak vir inligting, kennis en invloed uit ons eie geledere en gebaseer op die geskrifte en nalatenskap van ons eie skrywers, digters, denkers en leiers.

 

·        ‘n Nuwe eenheid

n Nuwe eenheid onder Afrikaners is nodig.  Dit moet gebaseer wees op gemeenskaplike beginsels en ideale. Diegene wat die pad van Afrikanernasionalisme verlaat het, moet hulle dwaling erken.  Die ander moet hulle weerhou van verwyte.  Eenheid van strewe, gees en denke, eerder as strukturele eenheid, moet nagestreef word.

 

·        ‘n Nuwe offervaardigheid

Ons moet onsself losmaak van materialisme, gemaksug en ander vorms van eiebelang en bereid word om offers te bring vir ons ideale.  Vryheid is die Godgegewe reg slegs van volke en individue wat bereid is om die offers daarvoor te bring.

 

·        ‘n Nuwe samelewingsorde

Die orde, verhoudings en sedereëls in ons samelewing is versteur deur die navolging van humanistiese en satanies-geïnspireerde samelewingsreëls.  Dit moet plek maak vir die Bybelse lewensreëls.

 

·         ‘n Nuwe vrymoedigheid

Ons moet enige skuldgevoel dat ons as volk ander mense verontreg het van ons afskud en die wêreld in die oë kyk met die vaste oortuiging dat ons saak reg is.  Die ware feite van ons geskiedenis sal hierdie oortuiging uitdra.

 

·        ‘n Nuwe Afrikanerleierskap

In die proses van die nastrewing van ons strategiese doelwitte sal leiers outomaties na vore gestoot word.  Die begeerte wat in ons harte lewe, is dat hulle ware dienaars van die volk sal wees in dieselfde gees wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy gesê het:  Die een onder julle wat ‘n leier wil wees, moet die ander se dienaar wees.

 

·        ‘n Nuwe land vir ons en ons kinders

Ons siening is:  Dié land is óns land.  Die gedeelte van die huidige Suid-Afrika wat histories Afrikanergrond is en op ‘n bedrieglike wyse van ons weggeneem is, moet weer opgeëis word.  Die offers wat deur voorgeslagte gebring is om vir ons ‘n eie land as erfenis na te laat, lê die onontwykbare plig op ons om hierdie land weer op te eis as Afrikanerland.  Ons het nie nodig om een enkele vierkante meter daarvan af te staan nie.  Die nuwe Afrikanerland se grense mag egter heelwat wyer strek as die historiese Afrikanergrond.  Die verwagte verbrokkeling en ineenstorting van die Suider-Afrikaanse samelewing en die moontlike gevolge van die vigsepidemie kan groot stukke aarde in Suidelilke Afrika in die volgende dekade of twee onbewoon en sonder enige wettige aanspraak daarop laat.

 

·        ‘n Nuwe Afrikanerregering

n Nuwe Afrikanerregering sal die logiese einddoel van ons toekomsvisie wees.  Daaruit sal noodwendig voortvloei:

-         ‘n Nuwe politieke orde

-         ‘n Nuwe ekonomiese orde

-         ‘n Nuwe geldstelsel

-          n Nuwe opvoedingstelsel, ens.

 

 

Die saak van die herwinning van ons vryheid moet op ‘n konstruktiewe wyse benader word.  Ons moenie terugkyk nie en ook nie vir ons laat betrek by onnodige konflikte waardeur ons kragte en hulpbronne verspil kan word nie.  Laat ons die voorbeeld van die arend volg. Kenners van arende sê dat die arend, wanneer hy aangeval word, nie oorgaan tot verset nie.  Hulle sê dat hy reg in die son in vlieg omdat die arend die enigste dier op aarde is wat in die son kan inkyk sonder dat hy daardeur verblind word.  En aangesien dit nie vir ander voëls moontlik is om dit te doen nie, moet hulle noodgedwonge die aftog blaas.

 

Alhoewel dit nie altyd moontlik sal wees om konfrontasie te vermy nie, moet ons primêre fokus nie op ons vyand wees nie maar op ons einddoel, naamlik ‘n vrye Afrikanervolk.  Indien ons so’n strategie volg, sal dit ons vyande in totale verwarring laat. Hulle kon dit regkry om ons in te maneuvreer in ‘n posisie waar verdediging en verset ons enigste strategie geword het.  Hulle het ons stelselmatig uit een strategiese vesting na die ander verdryf en hulle glo dat ons einde net ‘n kwessie van tyd is.  Indien ons in die midde van hierdie stryd ons strategie verander vanaf ‘n negatiewe versetstrategie na ‘n positiewe einddoelgerigte strategie, sal hulle net so verward wees as die aasvoëls wanneer die arend reg in die son in vlieg.  Nie alleen sal dit ons vyande in verwarring laat nie, maar sal dit Afrikaners saamsnoer en bemoedig in die wete dat ons nou op pad na ‘n vaste bestemming is en nie meer doelloos in die rondte maal nie.

 

·        OPSOMMEND

 

Die basiese elemente van die voorstelle hierbo is ontleen aan die militêre strategieë wat die Boeremagte tydens die Tweede Vryheidsoorlog toegepas het en waardeur die Britte effektief geneutraliseer is, sodanig dat hulle die oorlog teen die manne laat vaar het en dit verder teen die vroue en kinders voortgesit het.  Wat is hierdie elemente?

 

·        Toe die Britse magte gedurende Mei en Junie 1900 die Vrystaatse en Transvaalse hoofstede beset het, wou sommige Tranvaalse Generaals, waaronder  Botha, Burger en Smuts die oorlog staak.  Die Vrystaters, onder leiding van President Steyn en Generaal De Wet, aangevuur deur ‘n onuitblusbare vryheidsdrang en die wil om nie die onafhanklikheid van hulle republiek prys te gee nie, het hierdie voorstelle met minagting verwerp en die oorlog het voortgegaan.  Dit was ‘n belangrike keerpunt in die oorlog.  Indien hulle op daardie stadium sou oorgegee het, sou die Afrikanervolk in skande gesterf het.  Die oorlog is egter voortgesit en daaruit het voortgevloei ‘n heldedom soos wat geen volk op aarde het nie.  Dit het ook die grondslag gelê vir die herwinning van ons vryheid sestig jaar later.

 

·            Hulle het die guerilla-oorlogvoeringstegniek begin toepas.  Tydens hierdie fase van die oorlog is daar weggedoen met die groot lomp ossewakommando’s en daar is gekonsentreer op kleiner, beweeglike perdekommando’s.  Elkeen het selfstandig op sy eie geopereer en was vir sy eie militêre hulpbronne verantwoordelik.  Dit het die nodigheid van lomp bevelstrukture en allerhande logistieke probleme dadelik uitgeskakel.  Verder is daardeur verhoed dat groot getalle burgers op een slag in die hande van die vyand val, soos by Paardekraal en die Brandwagkom gebeur het.  By geleenthede het kleiner kommando’s ‘n eenheid geopereer wanneer dit nodig geag was om die vyand ‘n gevoelige slag toe te dien.  Dit is belangrik om raak te sien dat die Boere in hulle denke en optrede aanpasbaar genoeg was om ‘n strategieverandering te maak toe veranderde omstandighede dit genoodsaak het.

 

·            Daar is op spesifieke strategiese teikens gekonsentreer.  Dit was gewoonlik daarop gemik om die vyand se voorsieningslinies af te sny of te verhoed dat vyandelike magte konsolideer.  Daar was aktiewe kontak met die vyand en ‘n studie van die oorlog het getoon dat die meeste militêre kontakte tussen die Boere en die Britte deur die Boeremagte geïnisieër is.  Harold Spender skryf in die boek General Botha soos volg oor hierdie periode:  “Never, indeed, did the Boer name stand higher for pure military achievement than during these last months of the war.  As the months of the South African summer wore away, their scattered forces became more and more daring.  The valour of their commandos was never higher, and the striking power of their forces never greater.”

 

·            Na die val van Bloemfontein en Pretoria was beide Generaals De Wet en De la Rey van mening dat een of twee suksesvolle veldslae sal help om die moedelose Boere weer by die oorlog betrek te kry.  By Sannaspos en Silkaatsnek het hulle baie goed daarin geslaag.  Toe dit teen Februarie 1902 begin duidelik word dat daar moontlik vredesamesprekings kan plaasvind, het De la Rey besef dat enkele militêre welslae deur die Boeremagte hulle ‘n sterker posisie by die vredes-onderhandelinge sal plaas en die geleentheid daartoe het homself spoedig voorgedoen.  By Ysterspruit en Tweebosch het De la Rey se burgers die Britte met totale doodsveragting bestorm en twee van die mees skitterende Boere-oorwinnings tydens die oorlog behaal.  By Tweebosch kon hy selfs daarin slaag om vir Methuen, wat die tweede-in-bevel van die Britse magte in Suid-Afrika was, gevange te neem.  Daar word vertel dat Kitchener, toe hy hierdie nuus hoor, spierwit in die gesig geword het en van floute neergeval het !

 

Aan die begin van hierdie geskrif is daar gesê dat ons voorouers getrek, geveg en gestem het om hulle vryheid te verwerf.  Die vraag na die huidige toepaslikheid van hierdie metodes kan tereg gevra word.  Die BVI sal dit graag soos volg wil beantwoord:

·        Dit lyk nie asof trek ‘n opsie is om vryheid te verkry nie.  Baie Afrikaners het dit gekies as ‘n opsie om te ontkom aan die teisterings van die Nuwe Suid-Afrika maar dit sal nie tot vryheid van die hele volk lei nie.  Om ons vryheid binne die huidige bedeling deur middel van die stembus te probeer verwerf, is om voor die handliggende redes onmoontlik.  Veg is dus al wat oorbly.  Die gebruik van wapengeweld om vryheid te verkry is in beginsel nie verkeerd nie;  trouens dit is die wyse waarop die meeste volke hulle vryheid verwerf het.  In die praktyk is dit op die oomblik egter geen opsie nie.  Sonder om in besonderhede in te gaan moet dit gestel word dat die wil en die vermoë tot gewapende verset tans by die Afrikanervolk ontbreek.

 

·        Daar is ‘n vierde opsie oor en dié opsie kan verduidelik word aan die hand van die gebeure in die voormalige Sowjet-Unie, Oos-Europa en die Balkanstate gedurende die laat tagtigerjare van die vorige eeu.  Ongeveer vyftien volkere in hierdie gebiede het vrye, onafhanklike state gevorm sonder dat daar getrek, gestem of noemenswaardig geveg is.  Vreemde, kommunisties-geïnspireerde regerings het eenvoudig net in duie gestort omdat daardie volkere nie langer bereid was om hulle aan heerskappy te onderwerp nie en hulle het hulle geloofwaardig-heid en legitimiteit eenvoudig verloor.  Prof. Michael Lind, internasionale gesagheb-bende, skryf in die blad Foreign Relations van Junie 1994 soos volg:  “The wave of disintegrative nationalisms that ripped apart the former Soviet Union and the Yugoslav Federation will not be the last.  The next few decades will see increasingly determined secessionest movements in the multi-ethnic states:  India, Pakistan, South Africa, Iraq.”

 

Dr Jan du Plessis, bekende politieke konsultant, skryf in sy Management Briefing van 20 Januarie 2003 soos volg:

“The next couple of years could witness an ANC government in constant crisis.  The discrepancy between failing government capabilities and increasing social demands as a result of HIV/AIDs will continue to increase beyond the scope and capability of government.  There is a real danger that the ANC government could run aground like a ship that is no more in a position to negotiate the storm and just steers off course and wrecks on the rocks – it ceases to exist as an ocean going vessel and becomes an interesting shipwreck to passers-by on the beach.”

En verder:  “As the process deepens, government is unlikely to come to the rescue of society, for the political process and government itself will not only be affected, but could become paralysed to a very large extent.  What is now emerging on the political level is a phenomenon a former Secretary General of the UN, Boutros Boutros-Ghali, warned against in the early 1990’s:  the danger of the ‘failed state.’  This is a state where government still reflects the trappings (sierade) of power, but ceases to exist as a functional entity.”

 

·        Beteken dit dat ons as Afrikaners maar net kan stilsit en toekyk hoe die ANC-regering in duie stort om daarna ons vryheid op te eis ?  So’n benadering sal fataal wees, want ander magte is alreeds besig om hulleself gereed te maak om in die lugleegte in te stap wat so gaan ontstaan om sodoende ‘n ander heerskappy oor die Afrikanervolk te vestig.  Dink maar aan die groeiende invloed van die Islam op alle terreine van die samelewing in Suid-Afrika.  Die antwoord is:  Die Afrikanervolk moet met die vryheidsideaal besiel word sodat hy die wil kan ontwikkel om sy onvervreembare reg op vryheid en selfbeskikking uit te oefen.  Die ANC-regering en al sy trawante beskik nie oor die vermoë om die proses van die herlewing van die vryheidsideaal te verhoed nie en wanneer die Afrikaner die dag sy vryheid en selfbeskikking eis, sal hulle verder so verrot en verswak wees dat hulle nie in staat sal wees om ook dit te verhoed nie.  Dan mag dit dalk nie eers nodig wees om tot noemenswaardige gewapende verset oor te gaan nie.

 

·        Bogenoemde scenario is beslis ‘n realistiese, haalbare een.  Of dit wel sal realiseer, hang af van u, die leser van hierdie geskrif.  n Volk verwerf vryheid wanneer hy besluit om vry te wees.  So’n besluit kom egter net tot stand as ‘n wesenlike getal individue binne die volk daardie besluit neem en ook aksie neem om dit uitgevoer te kry.  Indien u, dus hierdie geskrif klaar gelees het en u sak maar net verder terug in u leunstoel sal die Afrikanervolk ‘n verslaafde volk bly en u sal medepligtig wees aan die uitlewering van u eie kinders en u volk se kinders aan ewigdurende slawerny.

 

Die BVI glo egter dat slegs ‘n minderheid Afrikaners so ‘n gesindheid sal openbaar en daarom wil ons u uitnooi om deel te word van ons vryheidstryd en u eie, unieke bydrae daartoe te lewer.  Indien u meer besonderhede oor die aktiwiteite van die BVI verlang, kan u ons kontak by die nommers op die laaste bladsy van hierdie pamflet.

 

 

 

 

DIE BVI SE BYDRAE TOT DIE VRYHEIDSTRYD

 

¨     ALGEMEEN

 

Die Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief (BVI) is formeel in die lewe geroep tydens ‘n Krugerdagherdenking wat op Saterdag 12 Oktober 2002 op die plaas Matjiesfontein naby Calvinia gehou is.  Die BVI het sy ontstaan te danke aan die honderdjarige herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog van die Boere-republieke teen Brittanje en het direk voortgevloei uit die aktiwiteite van die Swartland Boere-oorlog Herdenkingskomitee.  Vir die stigters van die BVI was dit duidelik dat die offers wat in ons volk se geskiedenis vir die vryheidsideaal gebring is, tesame met die huidige voortbestaanskrisis van die Afrikanervolk, die herwinning van ons vryheid ‘n dwingende noodsaaklikheid maak en dat die stryd daarvoor sonder enige verdere versuim hervat moet word.  In die vormgewing van die beweging is ryklik geput uit die geskiedenis van ons volk se vryheidstryd en daar is rekening gehou met die ware aard en wese van die Afrikanervolk.

 

¨     DOEL

 

Die doel van die BVI is om hom te beywer vir die herlewing van die vryheidsideaal in die harte van Afrikaners.  Die vryheidstryd sal slegs hervat kan word wanneer daar weer ‘n vryheidsideaal is.

 

¨     HOOFKENMERKE EN FUNKSIONERING

 

·        Die BVI is ‘n vrye, spontane assosiasie van alle Afrikaners wat die vryheidsideaal nastreef en elke persoon wat die Boere-Afrikaner Vryheidsbelofte onderteken is outomaties deel daarvan.  Dit opereer in die ware gees van die Kaapse rebelle, wat spontaan en vrywillig by die Boeremagte aangesluit omdat hulle hulleself met die Boere-vryheidsideaal vereenselwig het.

 

·        Die BVI is nie ‘n politieke party nie en beoog ook nie om een te word nie.  Dit het geen formele verbintenis met enige bestaande politieke, kulturele of kerklike organisasie nie, maar sal goeie verhoudings nastreef met enige organisasie wat die vryheidsideaal bevorder in dieselfde gees en styl as dié van die BVI.  Die BVI gaan nie betrokke raak by die politieke strydvoering van die dag nie, omdat hy die huidige regeringsbestel as van verbygaande aard beskou.  Dit streef ‘n langtermyn, blywende staatkundige bestel vir Afrikaners na.

 

·        Die BVI wil sy doelstellings nastreef langs vreedsame en politieke weg, gebaseer op die reg van volke om vry te wees. Dit beoog nie enige gewelddadige of ondergrondse aksies nie en het geen geheime agenda of verbintenisse met geheime organisasies nie.

 

 

¨     STRATEGIEË

 

·        Die langtermyn strategiese doelwitte van die BVI is hoofsaaklik gebou op die strategieë wat die Transvalers na 1877 gevolg het om hulle vryheid te herwin.  Dit bestaan uit die volgende elemente:

·        Om ‘n toegewyde kerngroep van Boere-Afrikaners, wat die vryheidsideaal hulle eie maak, saam te snoer in ‘n hegte, kragtige eenheid.  Met die oog hierop het die BVI die Projek Vyf Vlamme vir Vryheid in die lewe geroep.  Dit behels naamlik dat elke persoon wat die vryheidsideaal in sy hart omhels,  probeer om nog vyf persone te kry om dieselfde te doen.

·        Om die breë volkslae tot op voetsoolvlak te oortuig van die noodsaaklikheid van ‘n nuwe Afrikanerrepubliek.

·        Om uiteindelik van die regering van die dag te eis om afstand te doen van sy gesag oor Afrikaners en Afrikanergrondgebied sodat ‘n eie Afrikanerregering deur Afrikaners daargestel kan word.  Onder Afrikanergrondgebied word al die grond wat histories Afrikanerland is, verstaan.

 

Die BVI bied aan Boere-Afrikaners die geleentheid om binne ‘n geordende struktuur ‘n positiewe en skeppende bydrae tot die herlewing van ons volk se vryheidsideaal en die uiteindelike totstandkoming van ‘n nuwe, vrye Afrikanerrepubliek te lewer.  

 

¨     DIE BVI SE BYDRAE TOT DIE GRONDSTRYD

 

Die BVI het besluit om die grondstryd ‘n saak van hoë prioriteit te maak, om die redes soos hierbo aangegee.  Daar word beplan om ‘n grondberaad vir Wes-Kaapse Afrikaners DV op Saterdag 5 Maart 2005 te Worcester te hou.  Tydens hierdie geleentheid sal ‘n besprekingsdokument met die titel ‘n Strategie vir die behoud van Afrikanergrond ter tafel gelê en ‘n strategie gefinaliseer word.  Die BVI is van voorneme om dadelik te begin om dit in Kaapland te implementeer en aan Afrikaners in ander dele van die land voor te lê vir oorweging.  Die konsep-strategie kan soos volg saamgevat word:

 

·        Grondhervorming in Suid-Afrika word nie toegepas vir die redes wat daarvoor aangegee word nie.  Die werklike doel daarvan is om die Afrikaner uiteindelik van sy erfgrond te beroof.

·        Die aanslag op ons grond kan slegs effektief op ‘n beginselbasis afgeweer word.  Afrikaners moet die standpunt huldig dat ons ‘n onvervreembare reg op ons grond het, dat daar geen verpligting, van watter aard ookal, op ons rus om ‘n enkele vierkantemeter daarvan aan enigiemand af te staan nie en dat ons enige aanslag op ons grond sal teëstaan, al is dit met ons lewens.  Ons skuld ons grond slegs aan ons kinders en aan niemand anders nie.

·        Die ANC sal deur valse versekeringe probeer om Afrikaners te beweeg om vrywillig van hulle grond afstand te doen.

·        Die ANC sal van meelopers uit Afrikanergeledere gebruik maak om hulle doelstellings te bereik.  Die georganiseerde landbou, die media en die kerke sal hulle vernaamste handlangers wees.

·        Op die langtermyn sal Afrikaners slegs die grondaanslag effektief kan afslaan indien ons weer die politieke mag in die hande kan kry en ‘n vrye volk onder ons eie regering in ons eie land kan word.  Aan die anderkant is die behoud van ons grond ‘n voorwaarde vir die herwinning van ons vryheid.  Indien ons toelaat dat ons van ons grond vervreem word, kan dit die uiteindelike herwinning van ons vryheid onmoontlik maak.  Daarom is die vryheidstryd en die grondstryd onlosmaaklik aan mekaar verbind.

·        Afrikanergrondeienaars moet by ‘n punt kom dat hulle hulleself, by wyse van ‘n referendum of andersinds, duidelik uitspreek teen enige vorm van grondhervorming.

·        Die grondstryd bied aan gewone Afrikaners die geleentheid om op ‘n konkrete, positiewe en toekomsgerigte wyse by ons vryheidstryd betrokke te raak.

 

 

Dagbestuur van die BVI

 

11 FEBRUARIE 2005

 

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: BVI@xsinet.co.za